Die verhoor van twee Paarlse boere wat onder meer van moord aangekla word, sal komende Maandag (26 Oktober) in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad begin.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het die verwikkeling in die hofsaak van Jan (JT) Basson en John Woest bevestig.
Die twee word daarvan beskuldig dat hulle die 40-jarige Chatwell Rodgers op 30 November 2021 op die Sonstraal Pad-brug koelbloedig doodgeskiet het, en nog ‘n man, Arnold Coetzee, aangerand het.
LEES OOK: Verhoordatum en regter vasgestel vir moordverhoor van Paarlse boere
Onbevestigde bewerings dui daarop dat Rogers ‘n vermeende vrugtedief was en glo die gesteelde vrugte verkoop het.
Op die betrokke dag van die noodlottige voorval het Basson en Woest glo vir Rodgers en nog twee vriende, wat vrugte in die gebied verkoop het, agtervolg, het Paarl Post voorheen berig.
‘n Konfrontasie het uitgebreek en die skietery het kort daarna gevolg.
Albei verdagtes boer langs die Sonstraalpad. Woest staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord, terwyl Basson aangekla is vir poging tot moord, moord, die rig van ‘n vuurwapen asook aanranding.



