‘Mooi man!’ Roux naaswenner by internasionale Mr. Supranational

Marcél Roux
Marcél Roux is as die naaswenner by die internasionale Mr. Supranational-kompetisie in Pole, aangewys.

‘Mooi man!’ Roux naaswenner by internasionale Mr. Supranational

Marcél Roux
Marcél Roux is as die naaswenner by die internasionale Mr. Supranational-kompetisie in Pole, aangewys.

Marcél Roux (28), Mnr. SA 2024 van Kuilsrivier, is Saterdag 1 Augustus as die naaswenner by die gesogte Mr. Supranational-kompetisie in Pole aangewys. Die mansafdeling van die kompetisie is vanjaar vir die 10de keer aangebied met deelnemers van 41 lande wat in verskeie rondes om die hooftitel meegeding het. Roux se kamermaat tydens die verblyf in Pole, Pedro Cordero van Spanje, is as die wenner gekroon.

Marcél Roux
Trots Suid-Afrikaans: Marcél Roux in ‘n spesiaal ontwerpte uitrusting van Valencia Harrison Designs wat hy by die internasionale Mr. Supranational-kompetisie gedra het.

Toe hy 10 jaar gelede in sy matriekjaar as Mnr. De Kuilen aangewys is, sou Roux nooit kon raai watter draaie daar nog vir hom op ‘n loopplank wag nie.

Sportiewe rugbymanne dink mos nie noodwendig aan modelpassies nie. In 2024 het Roux se wederhelf, Simoné, egter besluit om hom “skelm” vir die Mnr. SA-kompetisie in te skryf.

Roux was aanvanklik vies om so uit sy gemaksone gedruk te word. Modelwerk is nooit iets waarin hy belanggestel het nie, maar toe ontdek hy dat die kompetisie oor meer as net voorkoms gaan. Hy het die geleentheid wat dit gebied het om na mense uit te reik en hulle te kon help, waardeer.

Roux, toe nog ‘n sportorganiseerder by die Laerskool Sunningdale, het in November 2024 toe hy as Mnr. SA aangewys is, vertel dat hy die volgende generasie wil help bou en as ‘n pa-figuur wil optree. Sy destydse vermoede dat om Mnr. SA te wees sy lewe baie gaan verander, was nie verkeerd nie.

LEES OOK: Marcél as nuwe Mnr. SA aangewys nadat sy vrou hom inskryf

Internasionaal

Roux het verlede jaar kort voordat hy sy titel as Mnr. SA moes oorgee gehoor hy is gekies om Suid-Afrika by die internasionale Mr. Supranational-kompetisie te verteenwoordig. Vanjaar het die kompetisie die eerste keer getroude mans as deelnemers toegelaat.

Marcél Roux
Marcél Roux het Suid-Afrika met trots by die internasionale Mr. Supranational-kompetisie verteenwoordig.

Die kompetisierondes in Pole is deur maande se voorbereiding voorafgegaan.

Roux vertel die internasionale kompetisie is op ‘n ander vlak. “By Mnr. SA was daar dalk ‘n paar modelle, maar almal was plaaslik. Die meeste deelnemers by die internasionale kompetisie is óf in TV óf professionele modelle. Die internasionale verhoog is maar ‘n ongemaklike storie, maar deur die loop van die proses het ek die Here se genade en guns gesien en stuk vir stuk het dit my baie meer gemaklik gemaak. Toe ek op die verhoog geklim het, was daar bietjie ‘nerves‘, maar ek het die Here se kalmte gevoel. Dalk het dit gelyk of ek gemaklik is, maar ek gee Hom al die eer.”

Marcél Roux
Marcél Roux lyk vol selfvertroue in die pak van The Classic Man Suits op die loopplank by die internasionale Mr.Supranational-kompetisie.

Jeug

As naaswenner gaan hy vir Cordero moet instaan wanneer hy nie sy titel-verpligtinge kan nakom nie. Roux is reg om dit te doen oor die wêreld heen.

“Ek sal seker ook die platform gebruik om ook soveel as moontlik ‘n ‘brand‘ te bou, grotendeels om die Here se naam te verkondig waar ook al ons gaan en met wie ek ook al in kontak kom.”

Hoewel hy nie meer by die skool werk nie, is die jeug nog steeds sy passie. Sedert September verlede jaar is Roux voltyds leier vir die jeug en jong volwassenes by die Vriend van God-kerk in Goodwood.

“Ek is basies in beheer van die jeug by die kerk en ek ‘swot‘ ook nou teologie.”

Sy lewe het reeds baie verander, ook as pa van ‘n tweejarige seun. Roux is egter steeds lief vir sport en hy draf steeds vir Brackenfell-rugbyklub uit.

Nog ‘n passie is “Truly Able”, ‘n inisiatief wat hy as Mnr. SA begin het en mee voortgaan by skole in die Wes-Kaap.

“Ons gaan maak groentetuine by skole en dan leer ons die kinders hoe om saadjies te plant en die groente te oes. Wanneer hulle geoes het, gee ons die groente net so vir die gemeenskap of ons maak kos daarmee en dan bedien die kinders dit wat hulle geplant het in die gemeenskap. Ons bring ook die Woord in en leer hulle om lief te wees vir hul medemens. Ons wil harte verander; van wat ek uit iemand kan kry na wat ek vir iemand kan gee.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article