Die Wes-Kaapse departement van mobiliteit het sy kommer uitgespreek oor die toenemende aantal swaar motorvoertuie (SMV) wat die afgelope paar weke op Bainskloofpas vassit.
Volgens die departement het sewe SMV’e die afgelope twee maande op die pas vasgesit wat ernstige verkeersontwrigting veroorsaak het en ’n veiligheidsrisiko vir ander padgebruikers ingehou het.
Paarl Post het die afgelope paar weke oor die pas berig nadat die VF Plus ‘n mosie oor die misbruik van die Bainskloofpas deur SMV’s op ‘n raadsvergadering op 30 September ingedien het wat die DM aanvanklik verwerp het, maar later van plan verander het en wel in gesprek getree het met die KWDM en die dpeartement van infrastruktuur (DOI).
Dié twee munisipaliteite het onlangs in gesprek getree met Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, oor moontlike oplossings om vragmotors se gebruik van die Bainskloofpas te stop.
Melchior Botes, woordvoerder vir Simmers, het tydens ‘n vorige geleentheid aan die koerant bevestig dat ‘n “vergadering gehou is met ‘n formele versoek/voorstel wat ingedien is”. Volgens Botes word die versoek egter nog “oorweeg” en kan besonderhede oor die voorstel nie in hierdie stadium gedeel word nie. Botes voer egter aan dat die departement van infrastruktuur (DOI) se standpunt oor Bainskloofpas onveranderd bly.

Volgens vorige kommunikasie met Koos le Roux, speaker van die DM, sluit onderwerpe wat op hierdie vergadering bespreek is “die probleme rondom die bewaring, toegang en beveiliging van Bainskloofpas in, asook skakeling met Google Maps om dié roete te verwyder as die kortste roete-opsie vir vragmotors”.
“Die uiteinde van die vergadering was dat die amptenare van die Wes-Kaapse regering, in oorleg met amptenare van die KWDM, aksieplanne in reaksie op die versoeke sal dryf en daarop sal rapporteer. Die DM kan bevestig dat toepaslike aksies reeds in ‘n gevorderde stadium is.”
Le Roux het benadruk dat hoewel die oplossing van die probleme rondom Bainskloofpas nie die mandaat van die DM is nie, die munisipaliteit steeds voortgaan om “interregeringsfeer-skakeling” te gebruik om die probleme te help oplos.
Volgens die verklaring deur die departement van mobiliteit het Bainskloofpas ’n duidelik gemerkte hoogtebeperking van 3,68 meter “maar sommige bestuurders van swaar voertuie ignoreer steeds die padtekens”.
LEES OOK: Munisipaliteite en provinsie in gesprek oor Bainskloofpas
Om ’n vasgekeerde vragmotor van die pas te verwyder, is ’n komplekse en tydrowende proses wat gemiddeld sowat vyf uur kan duur. Daar is ook beperkte of geen selfoonsein in sekere dele van die pas nie, wat kommunikasie en noodreaksie verder bemoeilik.
Die departement van mobiliteit doen dus weer ’n beroep op alle vrag- en logistieke operateurs, asook SMV-bestuurders, om streng by die hoogtebeperking te hou.
Voertuie wat hoër as 3,68 meter is, word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik, insluitend die R44 (Wellington/Hermon-pad) of die Hugenot-tonnel (N1).
“Ons doen ’n ernstige beroep op alle swaar motorvoertuigoperateurs en -bestuurders om die hoogtebeperking op Bainskloofpas te respekteer. Om hierdie reëls te ignoreer, stel nie net jou eie veiligheid in gevaar nie, maar ook dié van ander padgebruikers. Dit lei tot onnodige vertragings, duur verhalings en ontwrigting van die verkeer,” het Maxine Bezuidenhout, die departement van mobiliteit se hoofdirekteur van verkeersbestuur, gesê.
Jandré Bakker, die direkteur van operasionele ondersteuning by die DOI, het by ‘n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê dat Bainskloofpas ‘n provinsiale pad is, met die Wes-Kaapse DOI wat dus die padowerheid vir instandhouding is, maar dat die DOI die KWDM afgevaardig het om hierdie funksie te verrig, wat slegs insluit “roetine- en kleiner instandhoudingswerk” namens die DOI.
Die DOI het ook in sy vorige kommentaar gesê polisiëring van die pas is die KWDM se mandaat, terwyl die KWDM in sy vorige kommentaar gesê het die mandaat is dié van die departement van mobiliteit.






You must be logged in to post a comment.