BLOEMFONTEIN – Terwyl vullisverwydering in Mangaung een van die dienste is wat groot frustrasies in in dié metro veroorsaak, het AfriForum steeds geen vordering gemaak om inwoners wat self vir so ‘n diens betaal, daarvan kwytgeskeld te kry nie.
Die AfriForum-tak in Bloemfontein het nou hofstukke beteken op die Mangaung-metro weens die metro se volgehoue versuim om behoorlike vullisverwydering aan inwoners te lewer.
Die regstappe volg nadat talle inwoners, met AfriForum se ondersteuning, aansoek gedoen het om hul munisipale vullisverwyderingsdiens te kanselleer en eerder van privaat diensverskaffers gebruik te maak. Die metro het egter versuim om op hierdie aansoeke te reageer of om administratiewe geregtigheid te laat geskied, wat AfriForum genoodsaak het om die saak na die hof te neem ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000).
AfriForum het die hof versoek om in die belang van inwoners op te tree met betrekking tot hul reg om self te besluit oor die dienste waarvoor hulle betaal – veral in gevalle waar die munisipaliteit nie daardie dienste lewer nie.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê in die hofstukke word aangevoer dat Mangaung se wanbestuur en volgehoue diensleweringskrisis inwoners dwing om alternatiewe te soek, aangesien daar weke verloop sonder dat vullisverwydering plaasvind.
Groenewald sê die saak gaan oor meer as net vullisverwydering. “Die burgerregteorganisasie voer hierdie stryd namens inwoners aan wie se basiese regte geskend word. Niemand behoort te betaal vir ’n diens wat eenvoudig nie bestaan nie. Hierdie hofaksie is ’n stap om die beginsel van verantwoordbaarheid te herstel en die reg van keuse vir belastingbetalers te beskerm,” sê Groenewald.
Tot dusver het meer as 650 inwoners reeds aansoeke ingedien om hul vullisverwydering van die metro te kanselleer en by AfriForum se alternatiewe diens aan te sluit. Hierdie name en ondersteuningsdokumentasie is as bewyse by die hofstukke ingesluit.
Terwyl die hofproses voortduur, gaan AfriForum voort om volhoubare vullisverwydering aan die inwoners van Bloemfontein te verskaf. Die organisasie beklemtoon dat dit nie slegs ’n diensleweringsinisiatief is nie, maar deel van ’n groter poging om selfstandige en verantwoordbare gemeenskappe te bou.
Inwoners aan aansoek om kwytskelding doen deur meer te lees op hierdie skakel www.vullisverwydering.co.za.





