GEORGE – ’n 46-jarige man is Donderdag (4 Desember) op die N12 naby George in hegtenis geneem nadat lede van die polisie se provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad kokaïen met ’n geskatte waarde van R3,6 miljoen in die vragmotor wat hy bestuur gevind het.
Volgens die polisie het die lede inligting ontvang oor ’n vragmotor wat vanaf Johannesburg na George onderweg was en vermoedelik dwelms vervoer. “Die lede het die geïdentifiseerde vragmotor op die N12 in George gestop en deursoek,” lui ’n polisieverklaring.
“Hulle het op ’n boks afgekom wat kokaïen bevat met ’n totale gewig van ses kilogram. Die geskatte waarde van die dwelms is R3,6 miljoen.”
Die dwelms is volgens die polisie vermoedelik op pad na ’n dwelmden, en die oorsprong daarvan vorm nou deel van ’n breër ondersoek. Die man is in hegtenis geneem vir die handel in kokaïen en salna verwagting Maandag (8 Desember) in die George-landdroshof verskyn.
Lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die lede geloof: “Ek wil die lede applous vir hul rol om hierdie dwelms te konfiskeer voordat dit die strate van die provinsie bereik.”





