Die ervaring van ‘n ma van Durbanville met haar eie dogter as tweejarige het die idee om ‘n kinderboek te skryf laat ontstaan — dit onder meer oor ‘n verlore eend van Vygeboomdam in Durbanville.
Gertruida Gans leer ‘n les is Halrika Breytenbach, ‘n kommunikasiekonsultant, se eerste gepubliseerde boek. “Woorde het soveel impak en het die vermoë om te bou of te breek. Stories is ‘n kragtige medium om vir kinders belangrike lesse en waarhede op ‘n verstaanbare manier oor te dra — wat ‘n lewensveranderende effek kan hê op kinders se waardes en geloofstelsel,” sê sy.
Lief vir lees
“Ons dogter Amé, nou 16 jaar oud, is baie lief vir lees en kleintyd kon ek nie voorbly om leesboeke in die hande te kry sonder temas soos toordery of bangmaakgoed om vir haar voor te lees nie. Daar het iets in my hart begin groei om by te dra tot opbouende, stigtende leesstof vir die kleinspan. Só het my stories vir kinders begin vloei,” vertel sy.
Twee spesifieke gebeurtenisse het tot Gertruida Gans se storie gelei.

“Toe ons dogter twee was, het ek vir haar probeer verduidelik dat dit wat ons doen, gevolge het. Sy het toe met baie oortuiging vir my vertel dat sy nie plek het om haar ‘volge’ te dra nie, want sy dra alreeds haar handsakkie en haar pop. Dis een van daardie kosbare oomblikke wat ‘n mens vir altyd onthou, maar dit het my net weer laat besef dat ‘gehoorsaamheid’ en ‘gevolge’ groot en moeilike woorde is om vir jong kinders te leer, terwyl dit so noodsaaklik is om hulle daaroor te leer.
” ‘n Ander keer het ons in die parkie van ons kompleks gaan stap. ‘n Verlore eend het daar op die grasperk rondgekwaak en geheel en al verdwaald gelyk in die woonbuurt tussen die huise. Die verdwaalde eend en ‘n storie om gehoorsaamheid te probeer verduidelik, het Gertruida Gans se storie laat vlam vat,” sê Breytenbach.
Hoewel dit haar eerste boek is, het sy ook verlede jaar ‘n kinderstorie, Gary Giraffe’s Journey to Joy, vir ‘n private projek deur die beleggingsmaatskappy Tabono Investments, opgedra aan die 2025 Gary and Vivienne Player Invitational, geskryf.
“Ek en Monja Spies, wat die lieflike illustrasies vir Gertruida Gans leer ‘n les gedoen het, ook háár debuutboek, het ook saam aan hierdie projek gewerk,” sê sy.
Onder vlerk geneem
Breytenbach het in Oudtshoorn grootgeword en gematrikuleer. Sy het ná skool BA (Bedryfskommunikasie) aan die Noordwes-Universiteit (Pukke) studeer. Sy het in haar finale jaar in joernalistiek gespesialiseer en in die afgelope 20 jaar baie skryfwerk vir verskeie publikasies gedoen.
“Ek het egter geen formele skryfopleiding vir kinderboeke nie en is baie dank verskuldig aan my wonderlike redigeerder, Louise Viljoen, wat my onder haar vlerk geneem het tydens die publikasieproses. Ek het ongelooflik baie by haar geleer en dink sy is een van die bestes in die bedryf.”
In ‘n resensie deur Elizbé van der Colff beskryf sy die boekie as een van die beste prenteboeke wat sy in ‘n lang tyd beleef het.
“Dis ideaal vir twee- tot vyfjarige kleuters. Die Bybelse waarheid van gehoorsaamheid aan jou ouers, gebaseer op Spreuke 15:5, word in hierdie verhaal gedemonstreer en geleer. Kleuters sal hulle maklik met Gertruida Gans kan vereenselwig,” lui die resensie.
Ook in bediening
“Ek en my man, Fanie, met wie ek al 21 jaar getroud is, is ook in die bediening met ‘n passie daarvoor om God se koninkryk te bou en mense na Hom toe te lei deur middel van aanbiddingsmusiek en Sy Woord te deel,” sê sy.
Daar is nog stories op pad oor Gertruida se mede-karakters. “Dan het ek ook ‘n voltooide storie wat gemik is op ouer kinders, waaroor ek baie opgewonde is.”
Breytenbach het ook al ‘n musiekblyspel geskryf en vervaardig — saam met Juané de Villiers — en twee albums vrygestel.
Haar raad aan ander met skryfdrome is om “te weet dat God ‘n plan en ‘n doel met jou lewe het”.
“Dit is Hy wat al hierdie drome in jou hart plaas. Hy het vir ons gawes en talente gegee waarmee ons moet woeker om Sy liggaam te bou en Sy koninkryk op aarde te laat kom. As dít jou motivering is terwyl jy alles wat jy droom en doen aan Hom onderwerp en Hom daarmee eer, sál Hy vir jou dinge in lieflike plekke laat val en die regte deure laat oopgaan. Moet net nie moed opgee as dit nie dadelik gebeur nie — soms is dit eers ‘n lang proses,” sê sy.
Die boekie is beskikbaar by www.kroonkinners.co.za of www.naledi.co.za of vooraanstaande boekwinkels.
- Kontak Breytenbach by info@kroonkinners.co.za vir boekvoorlesings.





