Die sangeres en liedjieskrywer Luna Paige se nuutste enkelsnit, “Die oral” is op Vrydag 6 Februarie amptelik op verskeie musiek-platforms vrygestel.

Die nuwe snit volg op die sukses van haar vorige somervrystelling, “Rustyd & herhaal”.

Paige sê “Die oral” is ’n roerende lofsang vir menslike konneksie en dien as ’n voorsmakie vir haar nuwe album, Die reisigers.

Luna Paige se nuutste enkelsnit, "Die oral" is op 6 Februarie op verskeie musiek-platforms vrygestel.
Luna Paige

Inspirasie

Die inspirasie vir “Die oral” het vorm aangeneem op ’n stoep in Porto, Portugal, tydens haar reise in 2024, vertel Paige. Terwyl sy die universele taal van die liefde op ‘n afstand dopgehou het – van families wat op die kaai skater tot tieners wat op hawemure flankeer – is sy diep geraak deur die inherente menslike behoefte aan veiligheid en geborgenheid.

“Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees, herinner jou net weer aan hoe eenders ons almal is en hoe afhanklik ons van mekaar is,” sê Paige.

“Ons verloor so maklik dit wat ons as mense bind uit die oog. Ek het die frase ‘everywhere people loving people everywhere’ neergepen, en met my terugkeer na Suid-Afrika het ‘Die oral’ lewe gekry.”

Produksie

Paige het weer met André Scheepers, vervaardiger en musikant, kragte saamgesnoer om die snit op die lug te kry. Die duo het die oorspronklike vertoningsweergawe verfyn deur met vokale melodieë en instrumentele oorwurms te eksperimenteer.

Die snit spog met die kenmerkende kitaarwerk van Henry Steel, wat die lied se klank help vorm het. Steel het ook baskitaar gespeel.

Paige sê sy het ‘n stemstyl wat effens buite haar gemaksone lê vir hierdie opname verken.

Toertyd

Die bekendstelling van “Die oral” lui die begin van ’n omvattende nasionale toer in. Paige sal tussen 19 Februarie en 22 Maart landwyd toer.

Hierdie eerste toer van die jaar kom tot ‘n einde by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn. Paige sal op 1, 2 en 3 April by Die Windpomp optree.

Hierdie jaar vier die KKNK sy 30ste bestaansjaar – ’n mylpaal wat Paige beskryf as “’n groot voorreg om in te deel”.

Kort voor die fees sal sy haar derde enkelsnit, “Die lyf”, bekendstel. Die volledige albumbekendstelling vind in September vanjaar plaas.

Optredes in die Wes-Kaap:

19 Februarie: Die Koelkamers, Paternoster.

22 Februarie: Drostdy Teater, Stellenbosch.

25 Februarie: Die Boer, Durbanville.

1 tot 3 April: Die Windpomp, KKNK, Oudtshoorn.

Besoek lunapaige.com vir al die toerdatums en besprekings. Luister na “Die oral” op: Bandcamp, Apple Music, Spotify, SoundCloud, iTunes en Deezer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article