TygerBurger

KYK | Durbanville-sakeman vry na nag in polisieselle oor skoot op messteker

Die verdagte is in Vredestraat aangekeer.
Die verdagte is in Vredestraat aangekeer.

‘n Bekende sakeman van Durbanville, wat gister in hegtenis geneem is in verband met ‘n skietery op ‘n man wat ‘n ander man, vermoedelik sy eie broer, herhaaldelik met ‘n mes gesteek het, is vandag by die Bellville-landdroshof vrygelaat sonder dat hy aangekla is.

Die sakeman (64), wat al 30 jaar in Durbanville woon, is gister by die Durbanville-polisiekantoor in hegtenis geneem op ‘n klag van poging tot moord toe hy na die polisiekantoor gegaan het om ‘n verklaring oor die voorval af te lê.

Volgens sy prokureur, Werner Boucher van Boucher Attorneys in Parow, het die man nie in die Bellville-landdroshof verskyn nie en is die saak ook nie op die rol geplaas nie. Boucher het aan TygerBurger gesê hy het aan die senior staatsaanklaer die omstandighede rakende die voorval verduidelik.

Chaos losgebars

Dit volg nadat chaos in Scherstraat naby die Heritage Square-winkelsentrum oorkant Spiro’s Corner losgebars het toe ‘n man gister omstreeks 11:00 na bewering die ander man herhaaldelik voor die Keep it Handsome Barber Shop in Scherstraat met ‘n mes gesteek het. Beide mans is buitelanders. Die sakeman het die aanval vermoedelik probeer keer en na bewering ‘n skoot op die aanvaller afgevuur.

Inwoners van die dorp is veral geskok daaroor dat die sakeman in hegtenis geneem is toe hy by die Durbanville-polisie ‘n verklaring gaan aflê het. Hy is oornag in die selle by die Durbanville-polisiekantoor aangehou.

Volgens Boucher het die sakeman eers probeer om die aanvaller weg van sy slagoffer te skop, maar dit was onsuksesvol. Hy het gesê sy kliënt gaan dit beslis oorweeg om ‘n klag teen die polisie in te dien vir verkeerdelike inhegtenisneming.

“Dit is vernederend vir ‘n man met sy aansien in die sakewêreld om die nag in die selle deur te bring, terwyl hy net die slagoffer se lewe probeer red het,” het Boucher gesê.

Video

Op ‘n video wat ‘n ooggetuie geneem het, kan gesien word hoe die aanvaller herhaaldelik ‘n ander man, wat op die grond lê, met ‘n mes steek, selfs nadat daar op hom geskiet is. Die koeël het na bewering ‘n Audi-motor wat in die straat geparkeer was, getref en weggespat en teen ‘n muur vasgeslaan.

Die slagoffer het weggehardloop en sy aanvaller het hom agterna gesit. Op ‘n ander video kan gesien word hoe hulle later deur die parkeerterrein van Spiro’s Corner hardloop na die stoeparea by Spiro’s Mega Mica. Geskokte omstanders het toegekyk hoe die aanvaller voortgaan om die slagoffer met die mes te steek voordat hy weggehardloop het. Op dié video kan gesien word hoe die slagoffer se ingewande reeds uithang.

Skoot gehoor

Volgens ‘n inskrywing op die Facebook-blad van Gardier Security Services het sy spankoördineerder, David Glover, gister omstreeks 11:00 verby Spiro’s Corner op die hoek van Hoof- en Vredestraat in Durbanville gery toe hy ‘n skoot hoor.

Hy het in Scherstraat – om die hoek van Vredestraat oorkant Spiro’s Corner – gesien hoe ‘n man ‘n ander man met ‘n mes steek.

Glover het volgens die inskrywing hulp ontbied en die verdagte is in Vredestraat aangekeer. Hy het na bewering van die mes probeer ontslae raak deur dit in ‘n groen vullisdrom te gooi. Die verdagte en slagoffer is op die toneel deur die provinsiale ambulansdienste behandel en na ‘n hospitaal geneem.

AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër aan TygerBurger gesê ‘n 64-jarige man is op ‘n klag van poging tot moord in hegtenis geneem. By navraag oor waarom hy in hegtenis geneem is, het Swartbooi gesê die saak moet nog tot die hofrol gevoeg word en dat dit verder by die Nasionale Vervolgingsgesag sal berus.

“Die omstandighede rakende die voorval word steeds ondersoek,” het hy gesê.

Volgens Swartbooi word twee klagtes van poging tot moord ondersoek – teen die omstander, asook die aanvaller. Sy slagoffer het ernstige beserings in die mesaanval opgedoen, het hy gesê.

Hy het ooggetuies versoek om na vore te kom en die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te bel, of inligting anoniem by die selfoon-applikasie MySAPS te deel.

Die video mag sensitiewe kykers onstel

‘n Video van die messteekvoorval is op sosiale media versprei.
Sekerheidsbeamptes van Gardier Security Services en omstanders staan by die verdagte waar hy aangekeer is. Foto: Facebook
Die koeël het in 'n muur vasgeslaan.
Die koeël het in ‘n muur vasgeslaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article