Huldeblyke stroom in op sosiale media nadat dit bekend geword het dat die geliefde kunstenaar Kobus Kotzé Maandagmiddag 16 Junie op 87 in ‘n hospitaal in Bloemfontein oorlede is.

Kort voor hy twee weke gelede in die hospitaal opgeneem is, het hy nog met kwas in die hand voor sy esel gewerk.

Sy vrou, Joe, met wie hy 60 jaar getroud was en ook ‘n kunstenaar in eie reg is, skryf of Facebook: “Dit is met hartseer dat ons julle meedeel dat Kobus Kotzé na ‘n siekbed van twee weke oorlede is. Ons wil elkeen van sy kliënte, vriende en aanhangers bedank vir julle ondersteuning. Elke aankoop, elke kompliment en interaksie het hom oor die jare heen aangemoedig om sy kunsloopbaan met passie uit te leef.

“Derduisende skilderye uit sy hand hang oor huise reg oor die werêld. Ons bedank julle elkeen uit ons harte. Kobus was ten spyte van die feit dat hy ‘n welbekende kunstenaar was, ‘n baie nederige mens en het elke aankoop so geweldig baie waardeer.

“Ons gesin was so bevoorreg om hom in ons lewens te kon hê. Dis ongelooflik hoe dinge so vinnig gebeur, twee weke gelede was hy sterk en vrolik, hy het griep gekry, binne ‘n dag was hy gedisoriënteerd en nou is hy weg. Ons waardeer almal se ondersteuning en liefde.”

Hy was siek met griep toe hy in Mediclinic opgeneem is en het vinnig verswak. Hy is Maandagmiddag oorlede.

Op Facebook skryf Hennie van Deventer, voormalige redakteur van Die Volskblad, dat Kobus een van die pioniers en ook een van die sierade van Die Volksblad se Kunsmark in Pres. Swartpark in Bloemfontein gedurende die 1980’s was.

“Ek gee graag eer aan die nederige man wat aan soveel mense wêreldwyd vreugde verskaf het met sy sobere kuns – sonder fieterjasies of pretensie.”

Hennie van Deventer

Kobus was ook ‘n bekende gesig by kunstefeeste in Suid-Afrika soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein.

Kobus en Joe se twee dogters, Hanlie en Mariaan, skilder ook en hul seun, Floris, bestuur die Kotzé Kunsgalery in Dan Pienaarrylaan.

Kobus Kotzé se nalatenskap leef voort in sy kuns – ‘n tydlose herinnering aan ‘n besonderse kunstenaar en mens.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025