Kobus ‘Koekoes’ Bezuidenhout.

Foto: Verskaf

Plaaslike liedjieskrywer, Kobus Bezuidenhout, ook bekend as Koekoes, is onlangs oorlede. Hy het liedjies geskryf vir onder andere die bekende Afrikaanse kunstenaar, Adam Tas.

Adam het sy herinneringe van Kobus Bezuidenhout met Kouga Express gedeel. “Koekoes Bezuidenhout was een van my dierbaarste vriende, ons was soos broers.

“Ons het saam geskryf. Van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse treffers soos ‘Is dit hoe die hemel lyk’, ‘’n Man soos my pa’, en ‘In die huis waar stilte woon’ – liedjies wat multiplatinumstatus in Suid-Afrika bereik het – is uit sy pen gebore.”

Hy het verder bygevoeg, “Koekoes het vriende regoor Suid-Afrika gehad. Oral waar hy gegaan het, het mense vir Kobus Bezuidenhout geken.

“Ons gaan hom terdeë mis en ons kan vandag met hartseer sê op ’n riempiesbank in ’n rietdakhuis sit Koekoes saam met sy pa (lirieke uit Is dit hoe die hemel lyk).”

Nabye vriendin van die familie, Dedre Breitenbach, het gesê, “Koekoes was net ’n goeie ou, altyd dieselfde en reg met ’n grappie. Woorde was sy liefdestaal en hy kon só mooi speel daarmee. Hy was ’n geliefde broer-vriend wat diep spore in ons harte getrap het.”

Kobus se roudiens word Vrydag 12 November om 11:00 by die NG kerk in Da Gamastraat gehou.

Hy word oorleef deur sy ma, broer, sy vrou Sumari en hul twee seuns, JP (19) en Jan-Louis (16).

Kobus en sy vrou Sumari en hul twee seuns JP en Jan-Louis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article