JOYKIDS International gaan vanjaar weer groot om Kersvreugde te bring aan kinders van informele dorpsgebiede in Kouga.
Op 20 Desember sal dié “joy kids” weereens ’n genotvolle dag deurbring saam met die bekende uitreik-groep onder leiding van Hendrik Visser.
Op dié dag word hulle vanaf 12:00 op die Joy Kids-gronde in Gill Marcus getrakteer op lekker eetgoed soos brood, koekies, springmielies, lekkergoed, aarbeie en kerrie-en-rys. Daar word ook lekker saamge-sing en die Woord word verkondig.
Die inisiatief het in 2000 ontstaan toe Visser, afgetrede hoë-profiel po-lisieman, en in daardie stadium vlieënier, bewus geraak het van die sosiale nood in Maanhaarrand naby Magaliesburg in Noordwes. Hy het vanuit Roodepoort begin reis en ’n netwerk op die been gebring wat moes omsien na veral kinders se fi-siese en geestelike behoeftes.
Hy het aanvanklik al die kostes op homself geneem. Daar is ’n kerkgebou en gemeente gevestig, en sorg is gedra dat kinders op ’n gereelde basis gevoed word en geestelike bearbeiding ontvang. Dié organisasie is steeds aan die gang.
Vir die afgelope 7 jaar bedryf Joy Kids International as ’n nie-winsgewende maatskappy. Hulle bedien sewe dorpsgebiede, nl. Kruisfontein, Gill Marcus, Sewendelaan, Vaaldam, Maak ’n Las, Donkerhoek en Vlak.
Daar word gefokus op voeding en geestelike opheffingswerk. So word gestreef om ’n geestelik-gebalanseerde jeug gereed te maak vir die volwasse lewe. Ouers baat uiteraard ook as gevolg van die voortgesette pogings. Tot 13 300 kinders word maandeliks gevoed.
Die uitreiking word grootliks moontlik gemaak deur Visser se onvermoeide ywer en persoonlike fi-nansiële insette – soms onder die moeilikste omstandighede. Maar agter hom staan omgeegroepe wat ruim bydra.
Bekende verskaffers soos SASKO (brood en koek), Woodlands (melk en -produkte), Noël le Roux-boerdery (gesonde groente) en The Glen-plaas (vars melk). Daarby kom ook eiers van ’n bekende maatskappy, en bydraes van mense met ’n groot hart vir ander. Van die donateurs word persoonlik besoek en hul produkte word na uitreikpunte vervoer. Ook die besproeiingsmaatskappy (Iri-Agri), van Danie Bester en sy vrou Hannarene wat werk aan baie gemeenskapelede verskaf, lewer bydraes.
Toegewyde helpers wat hulself oorgee vir die edel taak is onder andere Visser se vrou Marthie, Clarena (van Gill Marcus) en haar helpers, Hillary, Poppie en Beverley, asook ouma Christien van die Vlak met haar ywerige, onbaatsugtige groep werkers.
Visser sê: “So probeer ons die gemeenskap dien met voedsel vir gees, siel en liggaam. Ons roem in Jesus Christus wat alles moontlik maak.”



