JEFFREYSBAAI – ’n Egpaar van Jeffreysbaai kan van geluk spreek, nadat ’n voertuig Sondag vroegaand op volle spoed deur hul huis in Noorsekloofstraat gebars het.
Vir Dean en Iris Gilbert het die insident egter ook enorme hartseer en trauma teweeggebring, omdat hul lieflinghond Jolo tydens die voorval dood is.
Volgens Iris Gilbert, ’n bekende sakevrou van die dorp, was sy en haar man Dean rustig tuis in hul slaapkamer.
“Ek het reeds my ringe afgehaal om te gaan bad. Die verskriklike slag het ons dadelik laat dink dat daar ’n ongeluk voor ons huis gebeur het, maar sekondes later was daar ’n geweldige tweede slag en die eerste gedagte was dat daar ’n gasbottel ontplof het.”
“’n Stofwolk het ons oorval en toe besef ons wat aangaan … die voertuig was binne ons badkamer en ons het vervaard na buite gevlug!”
By latere ondersoek het hulle tot hul skok besef dat die voertuig eers deur hul grensmuur gebars en toe hul badkamer en kombuis getref het.
“Ons het dadelik geweet dat ons twee lieflinghonde nog buite die huis was, en het na hulle begin soek. Net Joleentjie het verward vanuit die straat se kant in en uit die erf gehardloop.”
“Die bestuurder van die voertuig het gelyk of hy ’n epileptiese aanval kry, maar het geen sigbare beserings gehad nie.”
Volgens Iris het hulle aanvanklik gedink dat Jolo onder die voertuig beland het.
Hy is egter dood in die verwoeste badkamer tussen ’n hoop bakstene aangetref.

“Geen mens kan hierdie verskriklike trauma in detail oorvertel nie. Alles het in sekondes gebeur … die slag … nog ’n slag en die verwoesting in die huis en toe die verskriklike ontdekking dat Jolo oorlede is.”
Die ambulans en die polisie was gou op die toneel. Op videomateriaal wat vanaf die Gilberts se agterplaas geneem is, kan ’n mens sien hoedat ’n wit voertuig buite beheer oor die grasperk by die labirint ploeg en teen dolle vaart in die Gilberts se huis vasry.
Die ongeluk het net voor sesuur Sondagaand gebeur. Die Gilberts se honde word gewoonlik dan na binne gebring vir die nag. ’n Mens kan ook op die video sien hoedat die wit Franse poedel, Joleen, wat die ongeluk oorleef het, verward in en uit die erf hardloop.
Dit is nog nie bekend wie die bestuurder van die wit voertuig was nie, maar volgens die Gilberts is hy nie per ambulans of per polisievoertuig vanaf die toneel weggeneem nie.
In antwoord op Kouga Express se navraag oor waarom die bestuurder nie in hegtenis geneem is nie, het polisiewoordvoerder, kaptein Majola Nkohli, gesê: “Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing het SAPS of verkeersbeamptes die diskresie om aanvanklike alkoholtoetse by ongelukstonele uit te voer, mits daar ’n redelike vermoede van alkoholgebruik is. Aangesien die ongeluk by Noorsekloof, Jeffreysbaai, op Sondagaand 19 Julie slegs as ’n ongelukverslag geregistreer is sonder ’n oop kriminele saak, het die beampte daarvan afgesien om te toets.”
Die egpaar het die afgelope tyd groot uitdagings beleef. Dean was onlangs in ’n ernstige motorfietsongeluk betrokke, en Iris se dogter Julie Ceronio se verloofde het in ’n motorongeluk gesterf, terwyl Julie ook ernstige beserings opgedoen het. Sy het nog steeds nie volle beheer van haar skouer herwin nie.
Duisende rande se skade is aan die huis aangerig. Die huis is onlangs opgeknap en twee nuwe badkamers en ’n nuwe kombuis is toegerus.

Volgens Iris voel dit of sy nie weer in haar huis sal kan bly nie.
Sy moes op die toneel mediese behandeling ontvang en die egpaar sal ook vir traumaberading gaan. ’n Veiligheidsmaatskappy voorsien nou wagte om hul huis op te pas.
ALSO READ: Dog’s reunion in Malawi brings hope for more pet rescues






You must be logged in to post a comment.