SYFERSLIM Zander Adlam, ’n graad 7-leerder by die Victory Christian Skool in Jeffreysbaai, neem op 27 Julie aan die eindronde van die grootste nasionale aanlyn-wiskundekompetisie in Afrikaans by die Hoërskool Brackenfell deel.
Dié kompetisie – oop vir gr. 10- tot 12-hoërskoolleerders en gr. 6- en 7-laerskoolleerders – word deur Netwerk24, in samewerking met Die Burger, Beeld, Volksblad en Cum Laude Media aangebied.
Adlam is die enigste leerder van die Kouga-distrik wat na die finale ronde deurgedring het.
Vir Adlam, wie ’n groot liefde vir wiskunde en tegnologie het, was die aanlyn-wiskunde-kompetisie ’n lekker uitdaging.
En die pluspunt?
“Ek kon my skool verteenwoordig en vir hulle, sowel as vir myself, ’n ekstra geldjie verdien,” sê Adlam, wat vir nuwe Lego-blokkies spaar.
“Die kompetisie was nie vir my so moeilik nie. Ek kon al die somme met gemak uitwerk, behalwe vir drie waarvan ons nog nie al die bewerkings en formules geleer het nie.
“Ek was baie positief en opgwonde voor die kompetisie, maar ná die toets het ek begin twyfel, en nie gedink ek staan ’n kans om na die eindronde deur te dring nie.”
Hoewel Adlam nie vir die eerste ronde voorberei het nie, behalwe vir die aanlyn-oefenronde, is hy nou hard aan die oefen met die hulp van sy onderwysers.
Adlam blink ook op kulturele-gebied uit. In 2018 het hy na die nasionale finale ronde van die WOW Spelfees deurgedring en die hoogste punte nasionaal vir DROMME Graad 2 Rock School behaal.
In 2019 het han aan die semi-finale ronde van die ATKV-redenaars en Radikale Redenaars deelgeneem.
Verder bespeel hy verskeie instrumente: klavier, kitaar, dromme en ukulele.
Adlam droom daarvan om ’n sagteware ingenieur of ’n geoktrooieerde rekenmeester te word.



