Johnny Windvogel en Andyiovan Roberts is in die OP Warriors se o.11-span opgeneem.

Laerskool Pellsrus lewer eerste OP-krieketspelers op


JEFFREYSBAAI – Johnny Windvogel en Andyiovan Roberts het geskiedenis gemaak toe hulle die Laerskool Pellsrus op Jeffreysbaai se eerste krieketspelers geword het wat in die Oostelike Provinsie Warriors se o.11-span opgeneem is.

So groot is die oomblik vir die skool dat die sporthoof, Lorenda Cleaven, die waarnemende hoof, Joseph Goeda, en ouers die geleentheid in die Baai bygewoon het waar de spelers amptelik hul pette ontvang het.

Johnny en Andyiovan sal hul provinsie in November in Benoni verteenwoordig en sal uiteraard hierdie kans met albei hande wil aangryp.

Johnny Windvogel, Andyiovan Roberts
Johnny Windvogel en Andyiovan Roberts wil hulle kanse aangryp. FOTO: Verskaf

Cleaven sê, “Harde werk, vasbeslotenheid en toewyding is die boustene van die skool se uiters talentvolle jong sportmanne.

“Ons seuns het met mini-krieket begin, maar dit was gou duidelik dat hier talent is.

“Relton Fortuin en Luciano Arries het as afrigters ure lank by die skool en ook by die binnenshuise geriewe by die Equinox Mall tyd aan die spelers spandeer om hulle na die volgende vlak te neem.

“Dan het ons skoolafrigter, William Honiball, ook ‘n reuse-bydrae gelewer. Hy was ten alle tye gereed om te help.”

Die skool se hoofdoelwit is nou om sy eie krieketnette by die skool te kry.

Cleaven sê onderhandelinge is reeds met moontlike borge aan die gang om beter geriewe by die skool te kry vir talentvolle seuns en meisies wat op alle sportvlakke presteer.

Sy sê enige hulp en bydrae sal deur die skoolgemeenskap verwelkom en waardeer word.

LEES OOK: OP en Hoërskool Otto du Plessis maak stoei-geskiedenis

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article