Markham Geswint werk aan die Oupa-klok, alleen in sy wêreld van uurwysers, ratte, gewigte, slingers en die hipnotiese ritme van tyd: Tiek-tok,-tiek-tok.
’n Prentjie van vreedsaamheid. Dié antieke staanhorlosie, ’n George Hewitt, dateer uit 1675. ’n Man móét kalm, baie fyn en baie saggies werk aan só ‘n Oupa-klok.
Markham glimlag oor dié opmerking. “Op skool het ek baie gesukkel met konsentrasie. Klokke het my gehelp om te konsentreer. Vandag kan ek konsentreer op verskillende goed. Ek kan fokus. Dit is wat klokke basies doen – dit maak jou baie kalm.
“Soms, as ek sukkel om een of ander fout in ’n meganisme reg te maak, dan slaap ek daaroor. Die volgende dag het ek weer moed, want ek het gerus en dan loop die dinge weer baie beter. Klokke het my geleer om myself tyd te gun, geduldig te wees. Ek is baie passievol oor my werk.”
Markham, inwoner van Humansdorp, werk oor ’n wye streek in die Oos-Kaap. Klokma-kers, soos hy na homself en sy kollegas verwys, raak al hoe skaarser.
“Ek was bevoorreg, want verskillende klokmakers het vir my gewys hoe herstel jy die ou opwenklokke, so ek kon op ’n baie jong ouderdom dit alles leer. Ek is nou 46 jaar oud. Die klokmakers wat nog almal in die bedryf is, is so sewentig, tagtig jaar oud.
“Eintlik is dit ongelooflik dat daar nog mense is wat in hierdie era van modernisering en tegniese superspronge nog aan antieke klokke en opwenhorlosies kan werk. Jy het goeie kennis vir dié soort werk nodig,” beaam Markham en dié praktiese kennis kom nie tjoef-tjaf nie; dit is ’n kundigheid wat deur ’n ouer klokmaker na die aspirant klokmaker oorgedra word.
“My liefde vir klokke het begin toe ek vir Gabriel Juweliers in Jeffreysbaai gewerk het . Ek het 10 jaar vir hulle gewerk en werk nou agt jaar vir myself.
“Hulle noem dit eintlik ’n dying trade omdat alles modern gemaak word. Die meganismes wat gebou word, is battery-aangedrewe horlosies en klokke. Ek is meer in die meganiese bedryf en dit is vir my baie interessant om aan opwenbare klokke en horlosies te werk. Jy moet baie moed en baie geduld hê.”
Vir enigiemand wat so gelukkig is om ’n Oupaklok (staanklok) te hê, gee Markham die waarskuwing dat ’n klok soos ’n klavier is – as jy hom skuif, moet jy hom weer instel.
“’n Antieke klok, spesifiek soos hierdie George Hewitt Oupaklok, jy kan hom nie skuif nie. As hy op ’n plek staan, moet jy hom los. Hy is baie sensitief, so as hy loop, los hom dat hy loop. Die klok loop op twee gewigte – met die een word die tyd aangedryf en die ander gewig is vir die slaan.”
Aha! So as ’n Oupaklok se Pieng!-Pieng!- Pieng! jou mal maak, dan kan jy die “slaangewig” buite werking stel?
Markham kyk asof dit nie kan wees dat iemand ooit só iets sal wil doen nie.
“Ja, jy kan die een gewig afhak, dan slaan die klok nie, maar die ander gewig sal nog die tyd laat aanloop.”
As ’n reël gaan Markham uit na huise waar die ou klokke en opwenhorlosies gediens moet word. “Ek ry wyd – Jeffreysbaai, Humansdorp. St. Francisbaai, Kaap St Francis, die Langkloof en Nelson Mandelabaai.
Staanklokke is só fassinerend vir Markham dat hy eendag sy eie een gaan bou. Hy sê hy kan maar net hoop dat die mense wat wel sulke uitsonderlike Oupa-klokke in hul huise het, dit sal onderhou.
“Die klok moet onderhou word. Dit moet elke vyfde jaar gediens word. Elke rat draai in ’n bussie waarin daar olie is. Gewoonlik, as die olie oud word, slyt die oliebussie en mettertyd sal die klok gaan staan. Die gedeelte wat die klok aandrywe, moet ook deeglik gediens word – dit is die hart van die klok,” sê Markham, Kouga se eie klokkeman.





