Veronica Fourie columnPhoto:


Daar is min dinge wat my so lekker laat lag as wanneer iemand hulle verspreek, of ’n woord verkeerd uitspreek. En dan is dit gewoonlik nie eers ’n tongknoper in die ware sin van die woord nie.

Dit het ek die week weer besef toe ’n kok op RadioSonderGrense twee keer gesê het daar moet twee ‘tepels’- in plaas van twee teelepels- rooipeper in ’n gereg kom. Ek het omtrent geskater! Jare gelede het Cobus Bester tydens die ekonomiese nuusbulletin op televisie sommer die Franse frank verander na die ‘Franse vark’. En al doen mens hoeveel goed reg, daardie blaps bly aan jou kleef.

As radio- en TV joernalis het ek gou geleer dis die klein woordjies wat mens laat struikel. Maar tog ook die langer woorde, as jy nie mooi konsentreer nie. Ek het op ’n keer die nuus gelees met ’n storie van iemand wat aangekla is vir ’n ‘witbroodjie misdaad’, in plaas van ’n witboordjie misdaad. Om jou lag te hou terwyl jy ’n ernstige nuusbulletin lees, is moeilik.

Ek lees op sosiale media van iemand wat ’n boekbestelling wou kanselleer. Toe sy al die versend knoppie gedruk het, sien sy sy het nie die bestelling vir die ‘book club’ gekanselleer nie, maar vir die ‘boob club!’

Nog ’n blaps uit die radio ateljee wat my bybly was toe die omroeper moes lees dat Winnie Madikizela-Mandela gediagnoseer is met tipe twee diabetes. Maar aai, die siekte se woorde verspring toe na: “Sy is gediagnoseer met twee-tiete-diabetes.”

My kerriekopkind, Ruhan, was omtrent tien jaar oud toe ons by die kasteel in Kaapstad besoek afgelê het. Oud-president Thabo Mbeki het ook die dag die Democracy Museum daar geopen. Ek het die gladdebekkie aangemoedig om die president te gaan groet terwyl ons wag. Ek het op ’n afstand foto’s geneem en gesien hoe die prez die rooikop se haartjies vryf. Toe ons later aan tafel gesels en ek uitvra oor wat hy vir die prez gesê het, sê hy ewe kordaat: “Ag ma, ek het net gesê: ‘Hello Mr Mbeki, my name is Ruhan, and it is an honour for you to meet me!’”

’n Paar maande later het my en die prez se paaie gekruis en ek het hom aan die petalje herinner. Hy het toe vir Ruhan ’n nota geskryf: Dear Ruhan it WAS an honour for me to meet you. I hope to see you again.

My eie groot blaps van meer as 26 jaar gelede was toe ek die streeknuus gelees in die ateljee in Port Elizabeth – toe nog so genoem. Dit was Desember-vakansietyd. Dis die tyd wat die strande gepak is, en ook wanneer jong Xhosa mans na inisiasieskole gaan. Daar verloop dinge nie altyd na wense nie, en sommiges sterf.

Die een berig gaan toe oor die inisiasiskole waar optredes was. In die volgende berig lees ek toe van die massa mense op die strande, en dat die strandbestuurder sê: “……daar is geen ernstige voorvelle aangemeld nie.”

Almal se humor verskil. Vir is my is woordspeling en versprekings die snaaksste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article