AFRIKANERS hou van ’n mark.

Dit is pas weer bewys deur die onlangs gestigte Milkwoord-mark langs die Fountains Mall by die ingang van Jeffreysbaai.

Hannelie van Jaarsveld berig dat die idee wat verlede jaar by ’n braaivleisvuur ontstaan het, sodanig momentum gekry het dat ’n paar besielde entrepeneurs spoedig na ’n geskikte markruimte begin soek het. ’n Plaaslike inwoner, Dries du Preez, het ’n deel van sy grond beskikbaar gestel, en die keuse het geval op geskikte perseel met ’n dam en melkhoutbome.

Toe al die aanvanklike reusewerk, soos grond voorberei, tafels en stoele vervaardig, advertensieborde ontwerp, stalletjies optower en voornemende uitstallers nadertrek uiteindelik klaar was, is die eerste markdag op 28 Oktober met 35 stalletjies geopen. Tans het dit tot 57 stalle gegroei.

Dries du Preez en twee van die dames se mans, Johan en Cornel, het raad gegee, tyd afgestaan en ondersteun.

Idriaan Stander is feitlik elke Saterdag daar om te help, en stalletjie-eienaars sowel as lede van die pu-bliek en omgewing druk hul stempel af om ’n feestelike mark-atmosfeer te skep.

Die Milkwood-mark is volgepak met kunshandwerk, vars produkte en heerlike kos. Jongmense word nie uitgesluit nie; hulle kan elke week kom ontspan: springkasteel, go-karts, perdry, verfbal en bungee-spring.

’n Plaaslike talentvolle sanger tree elke laaste Saterdag van die maand op.

Die organiseerders kyk uit na groter vooruitgang en wil poog om mark-aktiwiteite relevant en opwindend te maak. Jeffreysbaai en omgewing word genooi om te kom ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article