Foto ter illustrasie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Een van die grootse lesse in die lewe is om die regte keuses te maak.

Daagliks kom ons voor talle besluite te staan. Soos ek vandeesweek weer besef het toe ek inkopies by die supermark gedoen het.

Koffie en tee

Mensig! Dis nie net vir koffie koop nie! Daar is filterkoffie en kitskoffie. Donker- of medium-gerooster. Dan het dit verskillende geure om van te kies soos mocha of neutgeure. Kafeïenvry of vriesgedroogde koffie moet ook in ag geneem word. En al die geriefsverpakkings in klein pakkies is aanloklik.

Selfs om tee te kies is ’n reuse besluit. Dit was gewoonlik die Vyf Rose staatmaker tee. Nou kan jy na smaak kies uit dié tee met ’n mint-geur, gemengde bessiesmaak, chai-spesery, aarbei en swartbessies, grenadella en bessies, of selfs groentee.

Ons rooibostee het ook fênsie geraak met suurlemoen, Echinacea en cappuccino. Nou moet jy nog kies tussen los tee of teesakkies.

Eiers

As daar eiers op jou inkopieslys is, sal jy moet kies tussen die verskillende groottes: medium, groot, ekstra groot of jumbo’s. Verder moet jy mooi lees of dit eiers is van graangevoerde hoenders, vrylopende kiepe, of dalk verkies jy die dure organiese soort.

Toiletpapier

Ek moet gereeld my bril opsit as ek by die noodsaaklike toiletpapier kom, om seker te maak jy kom tuis met die regte soort. Dis enkellaag, dubbellaag, en ek het by ’n luukse winkel selfs drielaag toiletpaier gesien. Maak seker elke rol het minstens 350 velletjies. Anders sien jy met die uitpak jy het die mini toiletrolle gekies. Mens sou dink almal is sag, maar party pakke beloof om ekstra sag te wees. Een soort sê dis selfs dermatologies gekeur.

Melk, brood en koeldrank

Nou vir die melk. Jy sal keuses moet maak tussen vars- of langlewe-melk. Kies dan of dit vetvry, laevet of heerlike volroom moet wees. Sojamelk, macadamia-, hawermout-, amandel-, of laktosevrye-melk laat mens nog dink.

Nou kan jy darem ’n lekker koppie tee of koffie maak na al die oorwegings.

Maar jy kan nie huiswaarts keer sonder die daaglikse brood nie. Hier is weer te kies en te keur tussen wit-, volgraan- of bruinbrood. Of brood met ’n lae glukemiese indeks. Nee wag, daar is nog dié wat hoog is in energie of hoog in vesels.

Keuses vir koeldrank is net so erg. Die gewilde gaskoeldrank met die swart en rooi verpakking is beskikbaar as ’n suikervrye-, kafeïenvrye-, of lae kilojoules, langs die tradisionele weergawe gelaai met alles, maar darem met minder suiker.

Aanmaakkoeldranke se kleure, smake en sterktes is genoeg om ’n mens te verwar.

Wasmiddels en tandepasta

Om van wasmiddels vir die wasmasjien nie eers te praat nie. Mens moet noukeurig lees. Is dit geskik vir outomatiese wasmasjiene wat voor of bo gelaai word.

Dalk moet jy die vloeibare wasmiddel probeer … Altemit het jy dalk waspoeier nodig vir ’n gewone wasmasjien, en dié soort sal konsternasie van te veel skuim veroorsaak in die outomatiese masjien.

Kies versigtig! Dalk sal ’n pakkie poeier vir handwasgoed reg wees.

Genugtig. Om tandepasta te kies is ’n pyn. Jy moet besluit of jy ’n vars asem wil hê, gesonde tandvleise, witter tande of plaakvry wil wees. Kan een soort nie maar vir alles reg wees nie.

Nou moet jy nóg keuses gaan maak voor die sjampoe- en sweetreukweerderrakke.

Eish …

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article