Laerskool Gamtoosvallei: Gammies gaan groot om 120 jaar te vier

Foto ter illustrasie.

Foto: Pixabay

Die Laerskool Gamtoosvallei op Patensie, trek dié naweek behoorlik sy feesmantel en partytjieskoene aan om die skool se 120ste bestaansjaar te vier.

Die skool se stigtingsdatum is 20 April 1903. Dit het eers bekendgestaan as “Patentie East” en was geleë op die Ripple Hill plaas. Na die kwaai vloed van 1932 is dit gevestig op die huidige perseel.

Die eerste inskrywing was Ignatius L. Rautenbach. Onder die eerste vyftig leerders was 13 Rautenbachs en 11 Ferreiras!

Na 120 jaar is dit steeds ’n funksionerende plaasskool met ’n trotse geskiedenis en tradisie.

Hier by Laerskool Gamtoosvallei gaan die 207 kinders van voorkools tot graad 7 sorgvry skool. Kaalvoet skoolkinders, ritte op die sleepwa agter die trekker, die reuk van lemoenbloeisels en smaak van sappige sitrusvrugte, en die Hanekamberg wat oor hulle waak.

Skoolhoof Christelle McCabe, sê, “Gammies is die tuiste van kinders wat sorgvry in die mooiste landskap hul vormingsjare deurbring. Wat meer wil ’n ouer hê as ’n skool waar kinders gekoester en geliefd onderrig word deur 15 passievolle personeellede!”

Feestyd

Van Vrydag, 14 April tot Sondag sal dit heeltyd pret wees op die sportgronde van die skool. Daar sal ’n spesiale uitstalling “Toeka tot Nou” in die skoolsaal wees. Vrydagaand sal feestelike langtafels in die skool se vierkant wees met ’n driegang-maaltyd, waarvoor kaartjies vooraf gekoop moet word. ’n Veiling word ook gehou.

Sport

Saterdag is ’n opwindende sportdag wat begin met ’n Gammies Colour Run. Dan gaan daar verskillende kragmetings op die sportvelde wees.

Die Gammies gaan op die rugbyveld en netbalbaan meeding teen Paul Sauer. Die wedstryde van volwassenes in die twee sporte beloof kwaai mededinging! Ook die personeel van Gammies en Kareedouw sal in aksie te sien wees.

“Jy kan jou slag probeer met kettieskiet, lemoen-eet, toutrek, kussinggeveg en vele meer boeresport items. Daar is ook spesiale kindervermaak onder toesig terwyl die grootmense die fees geniet,” het McCabe bygevoeg.

Kos sal daar te kies en keur wees, en kele kan by die biertent natgemaak word.

Sondagoggend se kerkdiens in die NG Kerk Gamtoos-Oos sal die fees afsluit.

Vir navrae, skakel die skool by 042 283 0246.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article