HUMANSDORP – Die Kruisfontein-rugbyklub op Humansdorp is die eerste wenner van die Fortuin Cup wat die afgelope naweek op sy tuisveld gespeel is.
Kruisfontein United het Harlequins van die Baai in die finaal in ‘n uiters opwindende wedstryd met 32-17 geklop.
In die eerste wedstryd van die dag moes Kruisfontein bloed sweet om ‘n vasbeslote Joubertina met 20-19 te klop. Joubertina het amper vir ‘n groot skok gesorg toe hy sekondes voor die einde nog met 19-13 voorgeloop het.
In die tweede wedstryd het Harlequins met 29-10 teen Progress gewen, terwyl Joubertina in sy volgende wedstryd met 19-7 aan die wenkant was teen Progress.

Desmond Boosman, president van die Kouga Rugby-subunie, sê die borgskap van R30,000 deur Fortuin Funeral Home het van die dag ‘n reusesukses gemaak.
“Kruisfontein het R12,000 vir sy oorwinning verdien, PE Harlequins R8,000, Joubertina United R6,000 en Progress van Kariega R4,000.
“Dit was ‘n ongelooflike dag met sowat 2,000 toeskouers en ons sien reeds uit na volgende jaar se tweede weergawe,” sê hy.
Boosman sê ander borge wat ook by die toernooi betrokke wil raak kan hom op 076 210 6495 bel.
Calvin Zietsman, vise-president van Kruisfontein, sê die dag was ‘n goeie begin vir ‘n gemeenskapsbeker tussen vier top-spanne wat ook in die Oostelike Provinsie se top-12 slaags was.
“As gevolg van die lang seisoen het spanne nie hulle eerste keuse eerstespanspelers gebring nie en liewer gemengde spanne met ervaring en jeug.
“Joubertina het vroeg Kruisfontein tot die uiterste gedruk deur tot op die laaste minuut 19-13 voor te loop met Kruisfontein wat uit die kake van die dood ontsnap het om die wedstryd met sekondes oor met ‘n verdoelde drie te beklink,” sê hy.
Daarna was 10’s-wedstryde gespeel waarin Jeffreys Bay Rebels vir Kouga Wolves van Hankey met 22-21 in ‘n naelbyter geklop het. Broncos was ook te sterk vir KwaNomzamo Warriors deur met 19-7 te wen.
Die wedstryde is gespeel in die breuk van die Fortuin Cup om ruskans te bied voor die 3de/4de plek uitspele tussen Joubertina en Progress.
Jayren Draghoender is in die hoofwedstryd as die organiseerder se Speler van die Wedstryd aangewys.
Jongelinge soos Owen Breda, Surgio Goeda, Lesley Ruiters, Donovan Phike onder andere het ook hul merk gemaak, en tesame met die ervaring van spelers soos Solomon Manxodidi, Sheldon Petersen en Jean Maclean lyk sake belowend vir ‘n goeie 2027-seisoen.
LEES OOK: Laerskool Pellsrus lewer eerste OP-krieketspelers op





You must be logged in to post a comment.