HELEN Hugo (33), ’n ma van vier jong kinders, lei ’n gesonde en aktiewe leefstyl op die kusdorp Jeffreysbaai.
“My lewe het letterlik gaan stilstaan,” sê sy oor die dag –
16 November 2017 – toe kolonkanker by haar gediagnoseer is.
“Hierdie soort kanker word gewoonlik by mense wat ouer as 50 is, onaktief is en ’n ongesonde leefstyl volg, gediagnoseer. Alles wat ek nie is of doen nie.”
Sedert sy kan onthou, sukkel Helen met erge maagpyn en sy het altyd pynmedisyne byderhand gehad.
Tydens haar derde en laaste swangerskap (een van hul kinders is uit haar man, Paul, se vorige huwelik) het die pyn erger geword, maar sy het dit aan aambeie toegeskryf en was glad nie bekommerd nie.
Ongeveer ’n jaar ná die geboorte van haar jongste kind het die pyn erger geword. Dit is toe dat sy besluit het om ’n dokter te sien, wat haar weer na ’n kolorektale spesialis en gastroënteroloog verwys het.
Daar is bevestig dat sy kolonkanker het.
Die aanpassings
Ná 28 chemo- en bestralingsessies is tien van haar limfkliere, haar rektum en 20 cm van haar kolon verwyder.
Sy moet nou vir vier tot ses Oxaliplatin chemosiklusse gaan voordat die omkeeroperasie, die verwydering van die ileostomiesakkie, gedoen kan word.
Van moed opgee is daar nie sprake nie. Sy is positief, al was daar ’n tyd wat sy nie meer wou lewe nie.
Vandag kies sy om eerder die sonkant van die lewe raak te sien, al het die werklike stryd en leefstylaanpassings nou eers begin.
“Niks kan jou vir die ileostomiesakkie voorberei nie. Dit wat binne jou liggaam moet wees, is nou buite reg langs jou naeltjie – afgeknoop soos ’n tuinslang.
“Ek was vreeslik depressief. Dit het gevoel asof my hele lewe om dié sakkie draai.
“Dit knou jou selfvertroue en is soos ’n derde persoon in jou huwelik.
“Gelukkig het ons geleer om in die slaapkamer daaroor te lag – jy moet. En my man weet waar privaatheid nodig is.”
Selfbejammering taboe
Helen weet sy is nie die enigste een in die gesin wat deur hierdie terugslag geraak word nie; dit raak ook haar kinders Ruach (1), Benrhu (4), Elanie (5), Leandri (8) en Paul.
“Dit is belangrik om vir my kinders deur die proses te wys dat ’n mens sterk moet wees en nie jouself jammer kry nie. Ek wil hulle leer om sterk te wees.”
Helen, wat drie keer ’n dag twee antidiarreetablette moet drink om te voorkom dat sy dehidreer, frons: “Ek sal nooit weer te gesond kan eet soos voor die operasie nie, sulke kos verteer te vinnig en kan diarree tot gevolg hê – dit het my al onlangs twee dae lank in die hospitaal laat beland.”
Sy lewe van stylsel: Aartappels, patats en botterskorsies. Iets wat dié gesondheid- en fiksheidsverslaafde dwars in die krop steek.
Boontjies, broccoli en blomkool is uit, terwyl kerrie en speseryagtige kosse vermy moet word. Wortels, mielies, sampioene, neute en sade verteer nie en kom heel anderkant uit.
Sy moet ook versigtig wees vir kosse wat ’n reuk afgee soos vis en eiers, en sy kan nie iets inneem wat gas veroorsaak nie, of die sakkie blaas op soos ’n ballon en raas.
“Dit is soos ’n wind wat jy nie kan knyp nie,” verduidelik
Helen laggend.
Dan moet sy ook genoeg vloeistowwe en elektroliete deur die dag inneem.
Benewens die kophou met wat sy eet, moet die sakkie gereeld skoongemaak en vervang word – ten minste elke tweede tot derde dag.
Nóg aanpassings
Saam met die chemoterapiesessies moet sy vir 14 dae 3 000 mg chemotablette drink, voordat sy ’n rustyd van sewe dae het. Sy het nou reeds twee sessies ondergaan.
Na vier tot ses chemoterapiesessies elke 21 dae, sal die omkeeroperasie gedoen word.
Dan is dit weer van vooraf aanpas. Wat die nuwe lewensaanpassing inhou, is nog duister vir haar.
“Vir nou kan ek net gaan op dit wat ek op die internet gelees het: Jy het minimaal beheer oor jou stoelgang en moet altyd naby ’n badkamer wees. Maar ek kan myself nie met persone van 50 en ouer vergelyk nie.
“Volgens my dokter is dié operasie die vinnigste gewigsverliesprosedure wat jy kan kry. Jy kan tussen 10 en 20 kg verloor en is nagenoeg 30 keer per dag op die toilet vir die eerste jaar ná die operasie. Dit verskil egter van mens tot mens.
“My gebed is dat ek nie so baie gewig verloor nie. Ek het al klaar soveel opgeoffer, en weet nie hoeveel ek nog sal moet opoffer en vir hoe lank nie.”
Tog is daar klein oorwinnings: Helen se liggaam baklei teen vroeë menopouse – die eerste goeie nuus na haar besoek aan die dokter in November verlede jaar.
Kankeroë
Die fyn, maar sterk vrou pleit: “Moet my nie jammer kry nie. Mense se bejammering gee my kankeroë, al word dit goed bedoel. Motiveer my. Gee my perspektief. Vertel my van die drama in jou lewe. Ek is moeg om oor my eie drama te praat en wil nie konstant daar-deur gekonfronteer word nie.”
Daar is gelukkig mense, bekend en onbe-kend, wat haar ondersteun.
“Dit is ongelooflik hoe mense inspring en help, onder meer donasies en hulp met die kinders. Wanneer jy konstant naar is, en vier tot ses antinaarheidspille ’n dag moet drink, is kosmaak die laaste ding waaraan jy dink.”
Helen wil graag haar storie met ander deel.
“Ek weet dit is ’n ongemaklike onderwerp om oor te praat, maar soveel mense gaan deur dit. “Daar is niemand van my ouderdom met dié soort kanker (en wat ’n sakkie moet dra), by wie ek vir raad kan aanklop nie.
“Ek sal dus eerder my storie vertel, en indien dieselfde kanker vorentoe by iemand anders gediagnoseer word, kan hy of sy by my hoor hoe ek dit hanteer.”
Sy wil ook met haar storie groter bewusmaking rondom kolon- en rektale kanker skep.
Haar filosofie op die moeilike pad:
“Ek lewe vir die klein goedjies en fokus op wat goed is. Doelwitte is belangrik, jy kan nie lewe vir net nou nie.”
- Besoek Helen se Facebook-blad by Hope4Helen.





