Die negatiewe nuus vul baie met vrees en neerslagtigheid, maar dan skyn daar ligpunte, soos die nuus van die Gamtoosvallei se eie isolasie-eenheid in Patensie. Foto:ANNELI YOUNG PHOTOGRAPHY


MENS raak deesdae eintlik keelvol vir Covid-19 wat al die nuusblaaie vul. Die negatiewe nuus vul baie met vrees en neerslagtigheid, maar dan skyn daar ligpunte, soos die nuus van die Gamtoosvallei se eie isolasie-eenheid.

Met die aanvang van die Covid-19 pandemie in Suid-Afrika het dr. Adi-Marie Schoeman en vier ander algemene praktisyns van Patensie, Loerie en Hankey besef dat daar ‘n daadwerklike poging aangewend moet word om pasiënte wat nie tuis kan isoleer nie, êrens te huisves.

“Port Elizabeth is 100km van ons af, en dit maak eenvoudig nie sin vir ’n pasiënt om so ver te reis net vir isolasiedoeleindes nie,” sê Schoeman. “Ons het besef ons sal moet aksie neem om ons boerderygemeenskap te beveilig en te versorg – ons haal lemoene af – ons kan nie bekostig om ’n groot-skaalse pandemie hier vrye teuels te gee nie.”

Schoeman en haar kollegas het spoedig koppe bymekaar gesit, hande gevat met verskeie sitrusboere, en die Kouga-munisipaliteit se ondersteuning verwerf. ’n Ou Eskom-gebou wat in onbruik verval het, is beskikbaar gestel, en stelselmatig omskep in ’n spog-eenheid waar Covid-19 positiewe pasiënte met groot sorg en waardig-heid hul isolasietydperk kan deurbring.

“Baie mense in ons gemeenskap woon in klein huisies, en dit maak dit moeilik om te isoleer as jy jou woning met ’n groot gesin deel,” verduidelik Schoeman. “Die virus is vir ons mense maar ’n slegte ding. Mense is bang, en daar kleef ‘n stigma daaraan – hulle huil sommer as hulle getoets word.”

Matte is uitgehaal, die gebou is binne en buite uitgeverf, badkamers is behoorlik ingerig, voldoende beskermende drag is bekom en beddens en beddegoed is, danksy skenkings uit die gemeenskap, in gereedheid gebring. Foto: ANNELI YOUNG PHOTOGRAPHY

Met nagmerrieverhale van Oos- Kaapse inwoners wat elders in onmenslike toestande in isolasie aangehou word, is hul vrese nie ongegrond nie, maar inwoners van die Gamtoosvallei kan na dese gerus wees dat hul lot nie dieselfde sal wees nie.

Met die finansiële ondersteuning van onder meer plaaslike boerevere-nigings is die Eskom-gebou behoorlik oorgedoen. Matte is uitgehaal, die gebou is binne en buite uitgeverf, badkamers is behoorlik ingerig, voldoende beskermende drag is bekom en beddens en beddegoed is, danksy skenkings uit die gemeenskap, in gereedheid gebring.

“Dit was regtig ‘n gemeenskapsprojek, en almal het ‘n aandeel hierin gehad,” sê ’n trotse Schoeman, wat vertel dat die isolasie-eenheid ook oor suurstofkonsentreerders beskik. “Ons het selfs data met die vergunning van ‘n plaaslike internetverskaffer, en ’n sekuriteitsmaatskappy het vir ons ‘n alarmstelsel bewillig.” Die Departement van Gesondheid het intussen bevestig dat die fasiliteit aan al hul vereistes en standaarde voldoen.

Mediese personeel Community Med in die Gamtoosvallie in hul kleurvolle tuisgemaakte werkuitrustings.Foto: VERSKAF

Intussen het Schoeman besluit om die neerdrukkende gees van die pandemie met kleur te beveg. “Ek het ’n klomp tafeldoekmateriaal gehad, en ‘n bedrewe naaldwerkster by een van ons plaaslike boere het vir ons vrolike werkuitrustings hiermee gemaak,” lag sy.

Haar dogter, ’n leerder aan die Hoërskool Brandwag in Uitenhage, het terstond besluit dié vrolikheid moet behoorlik gevier word, en sedertdien het Schoeman en haar kollegas ’n Internet-sensasie geword wat die virusvrese op hul plek sit met behoorlik gechoreografeerde danspassies.

“Ons is so dankbaar dat hierdie fasiliteit vir ons gemeenskap op die been gebring kon word met die hulp van onder andere Spes du Preez en Marius Kleyn van die Patensie en Hankey boereverenigings,” juig Schoeman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article