SOET, sappige nartjies . . . topsangers . . . vars gebak . . . stalletjies . . . feesvure . . .

Loerie, in die hartjie van diie Gamtoosvallei verkleur reeds ‘oranje’ soos inwoners vir die jaarlikse Loerie Nartjiefees op Saterdag, 29 September vere regskud.

Besoekers aan die fees kan opgewonde uitsien na talle kunsmarkstalletjes, vars groente en optredes deur van die land se gewilde sangers soos Dillon Lerm, Sonja Herholdt, Jennifer Zamudio, Jak de Priester, Die Campbells, Juanita du Plessis, Snotkop en Adam Tas.

Smaaklike etes, tuisgebak, vrugte en groente uit die Gamtoosvallei sal die feesgangers se honger stil. By die kunsmarkstalletjies sal heerlike ontbytbroodjies, boereworsrolle, sosaties, kerrie en rys, nagereg, pannekoek, en biltong te koop wees.

’n Hoogtepunt van die dag is die groot Nartjie-eetkompetisie wat elke jaar vir baie pret sorg as die moedige deelnemers poog om soveel nartjies moontlik in ’n minuut baas te raak.

Dis gewis ’n taai affêre, daarom is dit geen maklike taak om daarná die kroon vir die fees se nartjiekoning (of -koningin) te wen nie.

Benewens die kos- en kunsmarkstalletjies wat besoek kan word, word die gewilde Mej. Nartjiefeeskompetisie (14 tot 21 jaar) aangebied.

Belangstellendes kan om 08:00 by die kerkgebou inskryf.

Die drag is netjiese slenterdrag en die koste is R50 per deelnemer.

Die fees sluit af met ’n feesdiens op 30 September om 09:00.

Meer inligting

Die toegangsgeld is R120 vir volwassenes en R50 vir laerskoolkinders.

Hekke open om 08:00 die Saterdagoggend.

Vir meer inligting, skakel die Nartjiefeeskantoor by 042 287 0634 of 082 318 6827.

Stuur ’n epos na ngkerkloerie@lantic.net of besoek www.loerienartjiefees.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article