GAMTOOS – Die juniors van die Gamtoos-hengelklub was van die groot uitblinkers toe die OP se Ligte Gerei Boot Hengelvereniging (OPLGBHA) die afgelope naweek sy jaarlikse bekeruitdeling by die Londt Park in Gqeberha gehou het.
Hulle is vir hulle spogprestasies as die 2025/2026-seisoen se o.16-varswaterliga-spanwenners gekroon.
Hierdie prestasie is ‘n bewys van die jong hengelaars se talent, deursettingsvermoë en passie vir die sport. Dit weerspieël ook die waarde van spanwerk, ondersteuning en die oordrag van kennis en ervaring aan die volgende geslag hengelaars.
Vir die Gamtoos-hengelklub is hierdie oorwinning veel meer as net ‘n trofee. Dit is ‘n bevestiging dat die toekoms van die sport in bekwame en entoesiastiese hande is. Om te sien hoe die klub se juniors hul merk maak en op provinsiale vlak presteer, is prysenswaardig.
Die toekoms van hengelsport in die Oos-Kaap is uiters rooskleurig — en Gamtoos se juniors is beslis deel daarvan. Die prysuitdeling was ‘n besondere geleentheid waar klubs van regoor die Oos-Kaap byeengekom het om die prestasies van hengelaars tydens die 2025/2026-hengelseisoen te vier en erkenning te gee aan die harde werk, toewyding en sportmanskap wat deur die jaar aan die dag gelê is.

Tydens die geleentheid het al die geaffilieerde klubs hul welverdiende trofeë, sertifikate en medaljes ontvang.
Die jaarlikse ligakompetisies strek oor die hengelseisoen en word in drie onderskeie afdelings verdeel – riviervisvang, varswaterhengel en baaihengel (seehengel). Elke afdeling bied sy eie uitdagings en vereis vaardigheid, kennis en ‘n goeie begrip van die hengelsport.
OPLGBHA se ligas word volgens streng vang-, meet- en vrylaat-beginsels bedryf.
Hierdie verantwoordelike benadering verseker dat hengelaars nie net hul vaardighede ontwikkel nie, maar ook ‘n belangrike bydrae lewer tot die bewaring van visbronne en die volhoubaarheid van die sport vir toekomstige geslagte.
LEES OOK: Jeffreysbaai Gholfklub gaan 80ste vier met groot makietie




You must be logged in to post a comment.