Sowat 200 spekboompies is deur Dorp van Drome aan inkopiegangers by die Fountains Mall op Jeffreysbaai uitgedeel om te help om die omgewing groen te maak.
Die Dorp van Drome vrywilligers het ’n stalletjie beman om bewusmaking oor hulle projekte te skep.
Sedert Dorp van Drome tien jaar gelede tot stand gekom het, het talle drome op Jeffreysbaai al werklikheid geword. Ywerige en toegewyde inwoners hou vol om hulle vrye tyd, eie geld, hart en hande aan te wend om die dorp spoggerig te maak.
“Ons is ’n handjievol mense wat ge-reeld op Donderdae skouer aan die wiel sit en gedeeltes van die dorp reg-ruk. Dis ons trots en ons wil graag hê die vakansiegangers moet sien hoe spiekeries is ons dorp!” sê Deon Goosen van Dorp van Drome.
Hulle werk nou saam met die munisipaliteit wat soms help met materiaal soos verf, arbeid en wegry van rommel.
“Ons het egter nog baie hande nodig. Nie net om nog plekke mooi te maak nie, maar ook om dit wat ons reeds gedoen het, in stand te hou,” sê Goosen.
“Ons doen ook ’n beroep op inwo-ners om self die park, vlakkie, hoek of stegie in hul woonbuurt mooi te maak en te versorg.”
Projekte voltooi
Van die projekte wat Dorp van Drome reeds gedoen het sluit in: die beelde van ’n dolfyn by die hoofstrand en branderplankryer by Tecoma-straat en by Mentors-vulstasie, ’n beeld by Zoetelief en die engel in Astonbaai.
Dan is die historiese vissersboot, die Geelstert, gerestoureer en by die hoofstrand geplaas.
Die park in Poplarstraat en tuine en bome in St Francisstraat tussen Koraal- en Seetuinstrate is ook hulle vrywillige werk. Die ingang na Paradysstrand is ook deur Dorp van Drome verfraai.
Een van die grootste en mees onlangse projekte wat voltooi is, is die wêreldklas labirint in Noorsekloofweg. Een van Jeffreysbaai se legen-des, die hond Brag, se standbeeld is ook onlangs aan die seefront by die hoofstrand onthul.




