Foto ter illustrasie.

Foto: Argief

Die liefdadigheidsprojek The Ladies Lighthouse het ’n besige jaar agter die rug, maar het reeds begin skouer aan die wiel sit om kos vir Januarie in te samel. Dié nie-winsgewende organisasie is die afgelope vyf jaar reeds besig om enkelma’s en kinders met basiese benodigdhede te help en bied ook geestelike, emosionele, sowel as finan-siële bystand.

“Daar is nie ’n gemeenskap soos dié van die Kouga nie,” sê Carla Smith, stigter van The Ladies Lighthouse. “Ons help op die oomblik 66 enkelmammas en 133 kinders.”

’n Verskeidenheid projekte is deur die jaar ge-loods om dit finansieël moontlik te maak om die program aan die gang te hou. Daar was Paas-projekte in die herfs asook Bibber-boksies wat vir die wintertyd ingesamel is. Vir die komende Kersfees is verskeie plaaslike kerke genader om te help om vir elke kind ’n Kersgeskenk te gee.

“The Ladies Lighthouse het ook ’n tweedehandse-winkel waar ’n verskeidenheid items verkoop word. Dié verkope help grootliks met finansiële steun om die programme met sukses aan te pak.”

Smith bedank graag haar span wat so hard deur die jaar werk om dié organisasie se deure oop te hou.

“Hoe kan ek ooit genoeg dankie sê vir ’n gemeenskap soos die Kouga, ons omgewing, my vriende, besighede en anonieme skenkers. Mag die goedheid, omgee en liefde wat julle vir elke enkelmamma en kind van The Ladies Lighthouse bied honderdvoudig terugkom na julle. Ek dank God uit my hart uit vir elkeen van julle.

“Ek is ontsettend dankbaar vir die sterk span van The Ladies Lighthouse. Dit is groot genade,” sê Smith.

  • Mense wat betrokke wil raak of ’n bydrae wil lewer aan The Ladies Lighthouse kan Carla Smith by 079 399 8565 bel vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article