DAAR is op voetsoolvlak geen rede om te glo dat Jeffreys- n Astonbaai geleidelik van misdaad gesuiwer word nie. Die afgelope week was geen uitsondering nie – en dis maar net die ore van die seekoei, want die gereelde drama duur voort.
- Man beseer op “Pad van die Dood”: Die verbindingspad tussen Jeffreys en Aston verdien al meer hierdie skriknaam, want ’n man is Vrydag by die Marina Martinique-afrit van sy bromponie geslinger toe een van vele losloperhonde voor hom ingehardloop het. Hy is vinnig deur toeskouers omring terwyl hy op die grond gelê en op mediese hulp gewag het.
Dié pad wat wemel van beeste, skape, bokke, varke, perde en onverskillige jong kinders wat gevaarlike speletjies met motoriste speel, is een van die gevaarlikste roetes op die dorp. Daar word gemeen dat slegs heinings aan weerskante van die pad en ’n oorhoofse oorgangsbrug die voortslepende probleem kan oplos. Dit sal natuurlik nie die kwessie aanspreek van onbekwame motoriste wat vanuit alle rigtings op die mini-sirkel afjaag sonder dat hulle die verkeersreëls ken nie.
- Motoris van sy selfoon beroof: ’n Man van Jeffreysbaai is by die Ocean View-sirkel deur ’n stuk of agt jong seuns geterroriseer en in ’n oogwink van sy selfoon beroof.
Hy was besig met ’n sakebesoek by die Ithemba-sentrum toe die klomp seuns hom voorkeer en vir ’n saamrygeleentheid vra. Een het sy selfoon gegryp en die groep het na die nabygeleë plakkershutte laat spaander.
- Jong seuns treiter motoriste: Pieter Marais berig dat ’n jong seun op dieselfde pad op ’n motoris se masjienkap geklim en geweier het om af te klim. Toe meer seuns naderhardloop, het die man sy motor in trurat gesit en op dié manier weg gekom. ’n Vrouebestuurder het vroeër dieselfde ervaring gehad.
- Bejaarde paar by Walskipper aangeval: ’n Man en sy vrou is op die strand naby die Walskipper-restaurant aangeval. Die vrou het ’n snywond aan haar arm opgedoen. Daar is te-vore waarskuwings aan lede van die publiek uitgereik om, wanneer hulle op die strand gaan stap, op die uitkyk te wees vir ongure elemente.
- Twee Lenovo-skootrekenaars en ’n Seagate-hardeskyf is ook hierdie week tydens ’n roekelose rooftog uit ’n woonstel in Myrtlestraat, Wavecrest gesteel. Die ouma van die huis was op die boonste vloer en die vrou met wasgoed besig toe die woonstel betree en die artikels gebuit is. Twee ander vrouens sê hulle het ook al in die area deurgeloop, en een van hulle noem die dorpsgebied ’n “misdaadnes.”
’n Moeder van die township antwoord gefrustreerd op al dié kommentaar. Sy sê dat sy haar beste vir haar kinders probeer, maar dat dwelms die kinders uit haar hande steel en dat sy geen beheer oor hulle het nie.


