Die einde-van-die-jaar-opwinding is reeds voelbaar in die lug en om daartoe by te dra word die St. Francis Bay Concours sur Mesure-fees die naweek in dié pragtige kusdorp en omliggende omgewing aangebied.
Van ’n Motor- en wynskou, Vonkelwyn-kanaalrit, kaalvoet-rolbalspel en muurbalkompetisies tot laatnag partytjies kan tydens die gewilde jaarlikse gebeurtenis te wagte wees.
Of jy nou ’n wyn-en-koskenner, motorentoesias, sportman of partytjiedier is, daar sal gewis iets wees wat so reg in jou kraal sal val.
R14 miljoen McLaren by fees te sien
’n Diverse fees met iets vir almal om te geniet is juis wat Kimon Augoustatos en sy span voor oë gehad het alvorens hulle met die organisering van die fees begin het. Die Wyn- en motorskou is verseker die grootste gebeurtenis wat die naweek aangebied word en ’n McLaren 765 LT ter waarde van R14 miljoen sal by die Motorskou van naderby bewonder kan word.
Met meer as 21 wynlandgoedere wat aan die Wynskou deelneem sal jy gewis nie met ’n droë keel sit nie, en die “bubbly-liefhebbers” kan verseker wees dat daar ook aan dié heerlike voggies geproe sal kan word.
Maar as motors of wyn jou nie geval nie en jy eerder met jou kop in die wolke rondloop is die St. Francis-vliegveld met die “Fly-in”-aanbieding – waar glo alles wat moontlik kan vlieg sal wees, net die plek om te besoek.
Vir die “foodies” is daar natuurlik ook voorsiening gemaak. Van Fernando’s Chicken House se sappige hoenders en garnale tot kaasproe en die Uncle Nick se “Dinner and Dance” is maar ’n paar van die smaaklike ge-leenthede om op te noem. Soos gewoonlik sal Kimon Augoustatos weer vir die kos by Uncle Nick se fees verantwoordelik wees. Die gewilde eet-en-danspartytjie word vir persone van 30 jaar en ouer aangebied.
Musiek, dans en pretdraf (met bier)
Afgesien van die plaaslike Marimba-groep wat besoekers gedurende die naweek by talle van die deelnemende restaurante en besighede sal vermaak, is daar ook verskeie musikante deur MixLab, Joe Vanderlinden, Axyl The Band en natuurlik ’n optrede deur die komediant Gino Fabbri wat sal verseker dat jou partytjiegees ook gevoed sal word.
Saans sal daar ’n wye keuse van feestelikhede wees, soos ’n Halloween-partytjie waar ’n prys vir die aardigste kostuum toegeken sal word, die Tropiese-, After Dark 80’s- of ’n Old School Cool-partytjie waar jy as jou ou 18-jarige self kan aantrek wat sal verseker dat jy eers laatnag flou van plesier in die bed sal neerval.
Natuurlik sal die biertuin waar die naweek se verrigtinge teen Sondag feestelik afgesluit sal word nie agterweë bly nie. Jy kan selfs inskryf vir ’n pretdraf met twee gratis biere wat langs die pad aan deelnemers ouer as 18 jaar uitgedeel sal word.
’n Pendelvoertuig sal vanaf die Sea View Stables en Off The Menu in St. Francis beskikbaar wees.
Die fees word vir vier dae van 27 tot 30 Oktober in St. Francisbaai en omgewing aangebied.
- Vir meer inligting bel Olga Williams by 082 990 1708 of stuur epos aan olga@o-marketing.co.za of besoek https://www.facebook.com/csmfestival/ of https://www.instagram.com/csm_festival/Concours





