Die groep vrywilligers van Patensie, die Patensie Pronkers, is besig om die vallei reg te ruk.
Talle tuinbeddings is al op openbare en opsigtelike plekke ontwikkel, vullisdromme is strategies geplaas, straatname en ’n bord by die biblioteek is aangebring en bushaltes is geverf.
Nadia du Preez van die Patensie Pronkers sê die hulp van die plaaslike boere, sakeondernemings en die munisipaliteit het gehelp om dit moontlik te maak.
“Inheemse waterslim-plante is geplant. God se Hande-organisasie help ook met herwinningsprojekte. Volgende jaar beplan ons om sypaadjies en stormwaterslote te bou, openbare toilette aan te bring en rioolwerke te verbeter,” sê Du Preez.
Kunswerke sal ook binnekort op mure te sien wees.





