JEFFREYSBAAI – Die Jeffreysbaai-gewigopteller Lumar Karolse se verstommende opgang ná net een jaar in die sport is uiteindelik raakgesien toe ‘n kontrak van die Oos-Kaapse Akademie van Sport (ECAS ) aan hom toegeken is.
“Wonderlik! Welverdiend! Wat meer kan ek sê van ons 14-jarige Pellsrus-ster Lumar Karolse?” sê die afrigter, Pieter Pretorius.
Die kontrak word eksklusief aan begaafde sportmanne toegeken en gaan Lumar se pad vorentoe soveel makliker maak.
Pretorius sê, “Daarvolgens kry hy toegang tot hoëprestasie-hulp wat insluit sportwetenskap, krag en kondisionering, mediese sorg, behoorlike voeding en ontwikkelingsprogramme deur ECAS se Sarah Baartman se hoëprestasie hub.”

Lumar is Suid-Afrika se o.14-kampioen en sy jongste totale vergelyk goed met internasionale standaarde. Hy het ook by verlede jaar se SA-kampioenskappe in die Kaap met die Kampioen van Kampioene-trofee weggestap.
Wat Lumar se prestasies soveel meer merkwaardig maak is dat hy nog net ‘n jaar aan die sport deelneem. Sy vordering is ‘n groot klop op die skouer van sy afrigter.
Lumar is bestem om die OP se volgende internasionale manlike junior deelnemer te word na Jayden en Curt Pretorius, en Tom en James Farquhar. Hulle het die OP se naam op die hoogste vlak hoog gehou. Die viertal is almal deur Pieter Pretorius afgrig.
Lumar verdedig sy nasionale titel op 4 Julie in Johannesburg en is in dieselfde gewigsafdeling ‘n hele 37kg sterker as verlede jaar.
LEES OOK: Met skoolskoene, geleende suit, wen hy die SA titel




You must be logged in to post a comment.