JOHANNESBURG – Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het die uitspraak van die Konstitusionele Hof verwelkom wat die aansoeke om verlof tot appèl deur kontrakteurs van die omstrede Beitbrug-grensheining van die hand gewys het.
Dit bring ʼn einde aan die regstryd oor die onregmatige kontrakte van R40 miljoen.
Die aansoeke is gebring deur Profteam CC en Caledon River Properties (Pty) Ltd (wat sake doen as Magwa Construction).
Albei maatskappye het gepoog om vroeëre bevindinge teen hulle tersyde te stel oor die konstruksie van die 40 km-lemmetjiesdraadheining op die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe tydens die COVID-19 nasionale ramptoestand.
In albei sake het die Konstitusionele Hof bevind die aansoeke regverdig nie sy jurisdiksie nie en het verlof tot appèl met koste geweier.
Dit volg op ’n reeks nederlae vir die kontrakteurs in die Spesiale Tribunaal (Maart 2022), die Hooggeregshof (Desember 2023) en die Appèlhof (Januarie 2026).
Die oorspronklike ondersoek het aan die lig gebring dat die kontrakte van ongeveer R40,4 miljoen in Maart 2020 toegeken is sonder enige mededingende tenderproses, wat Artikel 217 van die Grondwet en Tesourieregulasies oortree het.
Die kontrakteurs het groot vooruitbetalings van sowat R21,8 miljoen ontvang voordat enige noemenswaardige werk gedoen is. Verder het getuienis getoon die heining het kort na voltooiing begin uitmekaarval. Hoewel die kontrakteurs aangevoer het die skade is weens ’n gebrek aan patrollies deur die weermag, het die hof bevind die kontrakte was in elk geval onwettig.
Die hofbevel bepaal die kontrakteurs is nie geregtig om enige winste uit die onregmatige kontrakte te behou nie. Hulle mag slegs vergoed word vir redelike en bewese uitgawes, wat deur geouditeerde state en rekeninge bevestig moet word.
Die SOE sê in sy verklaring enige bewyse van kriminele gedrag wat tydens die ondersoek ontdek is, is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys vir verdere optrede.
“Die uitsprake versterk die beginsel dat geen party voordeel mag trek uit onreëlmatige en onwettige verkryging nie,” lui die verklaring.
Die eenheid is ook gemagtig om siviele regstappe in die Hooggeregshof of Spesiale Tribunaal te doen om enige finansiële verliese wat die staat gely het, te herwin, insluitend geld wat betaal is vir dienste wat nie gelewer is nie.





