’n Vrouedag gaan op Hofmeyr gehou word om geld in te samel sodat die kerk se kleuterkamer opgegradeer kan word.
Dié “Woelige Lyfies Vrouedag” word aangebied deur die vrouediensgroep van die NGK Hofmeyr en gaan op Saterdag, 28 Mei vanaf 10:00 in die kerksaal gehou word.
“Ons het besluit om die kerk se kleuters in ag te neem en is besig met die beplanning van ’n opgegradeerde kleuterkamer by die kerkgebou,” sê Elisma de Jager van die Hofmeyr-vrouediensgroep.
“Die deurlopende tema van die vrouedag sal handel oor ‘klein woelige lyfies’ en ervare sprekers sal waardevolle insette oor babas, kleuters en peuters lewer.
“Elke ouer behoort hierdie inligting- sessie by te woon om te hoor wat ons nie elke dag in boeke of op Google raaklees nie,” sê De Jager.
Donasies van speelgoed gevra
Kaartjies is R100 per persoon en sluit verversings in. Die organiseers vra ook vir donasies van goeie gehalte tweedehandse opvoedkundige speelgoed.
Die sprekers is: Hanlie Barnard (maat-skaplike werker van Hofmeyr), Jeannette de Jager (arbeidsterapeut van Hofmeyr), Charlotte Laas (geregistreerde mediese suster wat haar eie besigheid bedryf in Cradock).
Die dag se program sal afgesluit word met ’n praktiese kinder-noodhulp demonstrasie.
- Vir meer inligting of om kaartjies te koop vir die “Woelige Lyfies Vrouedag” bel Elisma by 078 342 5768.


