SOWAT 100 matrieks van Cradock en Middelburg het die jaarlikse Winterskool bygewoon wat tydens die Junie-vakansie aangebied is.
Afrikaans-sprekende matrieks se klasse was by Middelland Senior Sekondêre Skool (MSSS) terwyl Engelse klasse by JA Calata Secondary School in Lihgelihle op Cradock aangebied is.
Plaaslike onderwysers sowel as onderwysers van sover as Oos- Londen het die klasse aangebied. Ekstra onderrig is aan die leerders gebied in wiskunde, wiskunde-geletterdheid, lewenswetenskappe, aardrykskunde, Engels, geskiedenis, besigheidstudies, fisiese wetenskap en verbruikerstudies.
Die leerders van buite Midros wat in MSSS se koshuis gebly het, was veral ingenome met hulle warm verblyf asook die heerlike etes wat hulle in die koshuis ontvang het.
Voor die Winterskool se klasse begin het moes leerders ’n toets skryf, wat aan leerkragte die probleem-areas uitgewys het waarop gefokus moes word.
Aan die einde van die week is daar weer toets geskryf, sodat leerders kon sien of hulle by die week se klasse gebaat het.
Van dié leerders se punte het met 20% en selfs 40% verbeter, ’n duidelike bewys dat die Winterskool in sy doel slaag.


