HOEWEL langdurige droogtes nog altyd iets was waarmee Graaff-Reinet moes rekening hou, kos dit nie veel speurwerk in die argiewe om tot die slotsom te kom dat dié dorp se watertekort nog nóóit so nypend was nie.

Sedert Dinsdag, 10 September het die situasie egter krisisafmetings begin aanneem. Teen Maandagaand, 16 September het tien-talle inwoners te kenne gegee dat hulle wéér met droë krane sit, sommige sedert die vorige week.

Eskom het noodsaaklike onderhoud op die kragtoevoerstelsel uitgevoer, en inwoners is vooraf op sosiale media deur Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit gewaarsku dat die onderbreking tot drie dae lank ’n beperkende invloed op die watervoorraad kon hê.

Samantha Graham, parlementslid, is egter van mening dat inwoners nie net gebrekkige kennisgewing ontvang het nie, maar ook dat die munisipaliteit sy plig versuim om met behulp van watertrokke die nodige aan inwoners te voorsien.

“Dit is ’n skending van die basiese mensereg tot water,” het Graham gesê, en BNLM by die Menseregtekommissie aangegee.

Inwoners is nie meer tevrede met die munisipaliteit se verduidelikings nie. Só byvoorbeeld wou verskeie belastingbetalers weet waarom hul krane reeds droog was oomblikke nadat die kragtoevoer op 10 September afgeskakel is.

Inwoners is ook ontstoke omdat, alhoewel krane droog is, lug wat deur die pype beweeg steeds die watermeterlesing laat loop. Dít nadat BNLM sowat ’n maand gelede streng droogtetariewe vir water begin hef het.

Tydens ’n onlangse vergadering met die Graaff-Reinet Residents and Ratepayers Associatioin (GRRPA) het die munisipale bestuurder, dr. E.M. Rankwana, te kenne gegee dat die dorp 120 liter water per sekonde benodig om in die aanvraag te voorsien, maar dat boorgate tans slegs sowat 50 liter per sekonde kan lewer.

“Ons is bekommerd oor die feit dat BNLM nie moeite doen om die publiek bewus te maak van die erns van die situasie nie. Daar is geen waterbesparings-plakkate of -kennisgewings om die waterskaarste te beklemtoon nie,” het voorsitter van die GRRPA, Michelle Erasmus gesê.

’n Ernstige lekplek by Wolwas, waar duisende liters water daagliks verlore gaan, is sedert Januarie verskeie kere onder die munisipaliteit se aandag gebring.

Maar die water lek lustig voort, terwyl kinders van die omgewing dié gevaarlike swemgat geniet.

Ten spyte van die gebrek aan reën, verneem Mid-Karoo Express van ’n anonieme bron dat een van die oudste boorgate op die dorp geen verswakking toon nie.

’n Artikel in ’n Lantern-tydskrif van Julie 1986 verklap dat boorgate in die dorpsgebied gemiddeld 50 000 liter water per dag kon lewer.

BNLM het nie op Mid-Karoo Express se vraag of die 28 munisipale boorgate optimaal benut word, en hoeveel van hulle inderdaad produktief is, geantwoord nie.

Boere en inwoners bid dat dit spoedig in die opvangsgebied van die Nqwebadam sal reën. Die toeslikking van die dam, sowel as die duisende verrottende visse waarvan die stank by tye die dorpsgebied binnewaai, kompromitteer hierdie potensiële bron van vars water vir die dorp.

Ook die voortslepende riool-lekkasie by Tronkdrif vloei steeds in die dam.

Die munisipaliteit het hierop geen kommentaar gelewer nie, ten spyte van Mid-Karoo Express se pogings om antwoorde te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article