MET die koue Karoo-winter op hande sal wyse inwoners van Cradock en Middelburg solank maar kaggelhout en kerse moet aanskaf, aangesien Inxuba Yethemba-munisipaliteit weereens nie daarin kon slaag om hul betalingsooreenkoms met Eskom te eerbiedig nie.
Nie net het Eskom ’n nuwe persverklaring hieroor uitgereik nie, maar kennisgewings – waarvoor inwoners moes teken – is ook van huis tot huis afgelewer.
Die voorgenome kragonderbrekings sal op 4 Junie ’n aanvang neem, en sal soos volg daar uitsien:
Week 1
Maandag – Vrydag
06:00 – 09:00 en
17:00 – 20:30
Saterdag en Sondag
08:30 – 12:00 en
15:00 – 19:00
Week 2
Maandag – Sondag
06:00 – 20:00
Volgens Eskom sal die 14-uur-lange onderbrekings volgehou word totdat die munisipaliteit die volle bedrag vereffen, of ’n betalingsooreenkoms met Eskom bereik en daarby hou. Eskom waarsku egter dat die algehele afsnyding van elektrisiteitsvoorsiening nie van die tafel af is nie, en dat hulle met ’n 15-dae kennisgewing wel tot dié stap kan oorgaan indien IYM se skuldsituasie nie verbeter nie.
Hóé die munisipaliteit daarin gaan slaag om die wolf van die deur te hou, is nie bekend nie. Die munisipaliteit het ’n geraamde inkomste van R12 miljoen tot R15 miljoen per maand, terwyl die personeelkorps van meer as 300 teen ’n koste van R8 miljoen per maand onderhou word. Om die Eskomrekening vir Cradock en Middelburg te vereffen, kos die munisipaliteit R5 miljoen tot R8 miljoen in die somermaande, maar tussen R8 miljoen en R10 miljoen in die koue wintermaande.
Die hoof finansiële beampte van IYM, Lucky Mulaudzi, is tans met siekverlof en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Munisipale bestuurder Xolela Msweli het egter Dinsdag in ’n vergadering met Middelburg se Sakeforum die versekering gegee dat die elektrisiteitsvoorsiening nie onderbreek sal word nie, en dat IYM vandag (23 Mei) sou poog om ’n skikkingsooreekoms met Eskom te bereik.

