PERDRY, roei, skuiling bou, rigting vind met die sterre en noodhulp is maar enkele van die aktiwiteite wat Somerset-Oos Voortrekkers onlangs tydens uitstappies na Skietfontein-plaas sowel as die Boknes Penkop- en Drawwertjie-kamp geniet het.

By Skietfontein was perdry die hoofaktiwi-teit. Voories het stalle skoongemaak, perde ge-roskam, gevoer en versorg. Daar is ook heelwat tyd in die saal deurgebring, maar voordat hul blikners gery was, is afgesaal en verfbal gespeel.

By die Bokneskamp het graad 3s die Toeka- en Seeplantspesialisasies gedoen, graad 4s het meer geleer oor noodhulp en ’n draai by die Nasionale Seereddingsinstituut gemaak om meer van hulle goeie werk te leer. Die graad 5s het geleer roei en Boeresport aangebied terwyl die graad 6e hulle rigting met die sterre moes vind, kos in die duine gaan soek en skuilings bou.

Kommandantleier Lizan Burger sê, “Ons is baie bevoorreg om jaarliks die kamp op ons pragtige Boknesterrein te kan hou. Asook die uitstappie na Skietfontein by Jannie en Wilna Geyer.

“Ons het ’n fantastiese span groepleiers en ander mense wat die Voortrekkers se belange op die hart dra. Baie dankie aan almal vir toegewyde en harde werk.” – DEONETTE HAGGARD

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article