’n WHATSAPP-BOODSKAP wat dié week soos ’n veldbrand versprei het in ’n hele aantal Karoodorpe, waaronder ook Middelburg en Cradock, het paniek oor watergehalte onder inwoners gesaai.
Die boodskap lees: “Moet asb ni di water drink want municipality het nu net laat weet dat daar iets in di water geval het so wees versigtig en hou asb di kinders vani krane af weg asb.Str aan as j n hart vr ane mense. Is dit waar?” (sic).
Die Chris Hani-distriksmunisipaliteit het spoedig gereageer op navrae van die publiek en die volgende twee kennisgewings op Facebook geplaas:
- “Komani inwoners: CHDM verneem met ontsteltenis van die kwaadwillige boodskap wat gemeenskappe waarsku dat ons drinkwater besoedel is en derhalwe onveilig is om te drink.
“Ons verwerp hierdie sogenaamde ‘waarskuwing’ as ’n vals alarm wat onnodige paniek saai, aangesien ons water skoon is en wel geskik is vir menslike gebruik. Ons tegnici toets die waterkwaliteit elke twee ure en elke Maandag word monsters geneem na ’n eksterne laboratorium. Ons verseker weer eens ons verbruikers dat ons water van goeie gehalte en veilig is.”
- “’n Vals boodskap oor gekontamineerde water word tans in verskeie dorpe gesirkuleer. Dit is ’n kwaadwillige alarm met die doel om angs te skep in gemeenskappe.”
Die boodskap is ook in Graaff-Reinet versprei.
Die woordvoerder van Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit, Wilca Smith, het Mid-Karoo Express ingelig dat hulle ’n foto van die Whatsapp op hul Facebookblad geplaas en as volg daarop gereageer het:
“Die onderstaande boodskap word op verskeie platforms op sosiale media versprei. Die munisipaliteit is nie bewus van hierdie gerugte nie. Indien enigiemand inligting het, moet hulle asseblief die munisipaliteit dienooreenkomstig skriftelik inlig.”
Dit blyk dat die boodskap in ’n ommesientjie selfs sover as Malmesbury, George en Knysna versprei is, maar die oorsprong daarvan kon nog nie vasgestel word nie.




