Cradock se woongebied bekend as Bergsig het Dinsdagaand, 9 Februarie ‘n uitgebreide kragonderbreking gehad nadat vandale tydens die geskeduleerde beurtkrag by die gebied se substasie ingebreek, die plek gevandaliseer en pype uitgebreek en gesteel het.
Elektrisiëns van Inxuba Yethemba-munisipaliteit het tot gistermiddag, 10 Februarie gewerk om die skade te herstel.
Hierdie inbraak het plaasgevind tydens ‘n spesiale veldtog van die plaaslike polisie wat ‘n dringende beroep op inwoners doen om nie gesteelde goedere te koop nie.
Volgens kaptein Larianne Jonker, polisiewoordvoerder, is verskeie plakkate in die sentrale sake-sektor van Cradock, asook by tweedehandse handelaars opgesit om mense te versoek om nie goedere, wat moontlik gesteel is, te koop nie.
Die polisie versoek dat enige een wat inligting het oor moontlik gesteelde goedere dit dadelik by die polisie moet aanmeld.

