TWEE meubelstukke van die skaars Lucas Borman-versameling, pronk in ’n huis op Cradock.
Meeste van Lucas Bornman se meubels is in besit van Graaff- Reinet se museums.
Nadat dié museums en hulle skaars meubels in die nuus was, is verneem dat Neville Rapp van D’licious-tuisnywerheid op Cradock ook van dié spogstukke besit.
Rapp het twee buffets wat, volgens inligting wat tot sy beskikking, in die 1850’s deur Borman gemaak is toe hy by Cleghorn and Harris in Graaff-Reinet werksaam was.
Jo-Mare Rabe van Pieter Rabe Oudhede meen egter dat die meubelstukke eerder rondom 1900 gemaak is in die sogenaamde kothuisstyl, wat tydens die eeu-wisseling so gewild was.
Rabe vertel dat Borman die seun van ’n vrygelate slaaf was.
Volgens haar is die gekerfde vyfblaar-blommotief ’n kenmerk van Borman se werk.
Sy sê ook dit blyk dat Borman eerder vir homself as vir Cleghorn and Harris gewerk het.
Rabe verduidelik dat sy van ’n oudhede-handelaar op Graaff-Reinet verneem het dat Borman soms plankies met die naam “Cleghorn and Harris” daarop, agter spieëls en in deure gebruik het.
“Dit is waarskynlik herwin uit kratte waarmee die handelaar sy ware vervoer het,” sê Rabe.
“Nog ’n interessante aspek van Borman se meubels is dat hy verskillende houtsoorte met ’n verftegniek bedek het.”
Sy vertel dat hy eerstens ’n laag oker aangewend het, dit bedek het met ’n baie dik laag donker vernis en dan golfpatrone met ’n kam daarop getrek het.
“Wie’t nou kon dink dat herwinning en verftegnieke toe al mode was?” vra Rabe.




