Die huis het gedurende ’n kragonderbreking afgebrand. Foto:VERSKAF


’n HUIS in Baakenstraat, Michausdal het verlede week gedurende ’n krag-onderbreking afgebrand.

Alles wat Nikita Douglas en haar twee seuns, onderskeidelik 11 en 12 jaar oud, besit het is deur die vlamme verswelg.

“Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die brand uitgebreek het terwyl ’n geskeduleerde kragonderbreking aan die gang was. Gelukkig was daar niemand in die huis nie,” het ’n geskokte Douglas gesê.

Sy vertel dat sy na middagete buite die huis gestaan en gesels het toe haar twee seuns, wat op pad winkel toe was, aangehardloop gekom het en gesê het dat haar bed brand.

“Die brand het vinnig deur die res van die huis versprei. Ons kon niks red nie. Al ons klere, die kinders se skoolgoed, ons kos, meubels, gordyne, alles, alles is uitgebrand,” het Douglas gesê.

’n Beroep word op die publiek gedoen om die gesin te help met skenkings van klere en kos. Vir meer inligting bel Vanessa by 083 617 6827.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article