Die gat in polisiesersant Charlotte McPherson se diensbroek en die verwronge selfoon wat die brand veroorsaak het.Foto:VERSKAF


’n POLISIESERSANT van Fort Beaufort het vroeër vandeesmaand kennis gemaak met ’n misdadiger van ’n heel ander kaliber as dié waarmee sy daag-liks te doen kry.

Charlotte McPherson (42) het aan Komani Karoo Express vertel dat sy haar op dié dag behoorlik uit haar vel geskrik het.

“Ek het in my etensuur in my diensklere by ’n plaaslike supermark ingeglip om ’n paar broodnodige inkopies te doen. Toe ek terug by my motor kom het ek rook geruik,” sê McPherson.

“Ek het rondgekyk maar kon geen vuur of enige rook sien nie. ’n Paar mense het met hul hande in my rigting beduie, maar ek het nie daarop ag ge-slaan nie en eenvouding in my voertuig geklim.

“Eers toe ek agter die stuurwiel inskuif het ek van ’n brandgevoel teen my bobeen bewus geraak.

“Tóé besef ek dat die rook by my broeksak uitborrel. Ek het vinnig uitgespring en die baie warm selfoon uit my broeksak geruk en weggegooi sonder om agter te kom dat dit my hand gebrand het!”

Volgens McPherson het sy die betrokke selfoon dieselfde oggend by ’n tegnikus gaan haal waar dit vir herstelwerk was.

“Goddank is die polisiebroek van duursame materiaal anders kon die brandwond op my bobeen veel erger gewees het,” sê McPherson.

Intussen het die selfoontegnikus aan McPherson ’n ander selfoon gegee.

“Ek sidder as ek dink wat kon gebeur het as ek dit soos ander vroue in my ‘privaatposbus’, dis nou voor by my borste, gebêre het,” sê McPherson skertsend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article