Eduan Jack saam met mamma Yolandé Ferreira. Foto: AMY COETZER/KAROO GRACE PHOTOGRAPHY


Eduan Jack saam. Foto: AMY COETZER/KAROO GRACE PHO

Eduan Jack saam. Foto: AMY COETZER/KAROO GRACE PHOTOGRAPHY

Eduan Jack Ferreira – die “wilde plaasseuntjie” van die plaas Paradys net buite Cradock – is as Mid-Karoo Express se Voorblad Kersbaba aangewys!

Volgens sy ma, Yolandé Ferreira, was sy baie verbaas gewees toe sy hoor haar eersteling is as die wenner van dié kompetisie gekies. “Ek is nou ’n baie trotse ma! Ek het gedink jy maak ’n grap. Sy pa se reaksie was effens anders – dadelik breed gesmile toe ek hom vertel sy seun gaan op die voorblad van die koerant wees,” het ’n blye Ferreira gesê.

Volgens haar is Eduan baie energiek en woelig. “Eduan is ’n wilde plaasseuntjie, maar hy maak ’n mens se dag baie interessant. Hy het ook ’n sagte kant aan hom nou en dan; en hy is nogal baie liefdevol!”

Ferreira se ma, Tina Granzier, het haar van die kompetisie vertel en sy en haar man, Francois, het besluit om hom in te skryf.

Dié bondeltjie vreugde is op 15 Januarie vanjaar gebore en het reeds op 10 weke begin deurslaap. “Maar dit gebeur nie meer so gereeld vandat hy tande begin sny het nie. Hy slaap oor die algemeen nogal goed, maar nuwe ouers sal mos altyd wens dat daar meer geslaap kan word,” het sy grappenderwys vertel.

En sy gunsteling kos? “Kaas! Hy kan bolletjie ná bolletjie daarvan opeet. Dit loop seker in die gene, omdat almal van ons lief is daarvoor. En dan is daar nog Hollander-bloed wat ook deur hom vloei.”

Eduan Jack saam met mamma Yolandé Ferreira. Foto: AMY COETZER/KAROO GRACE PHOTOGRAPHY

Sy mamma het sy naam gekies. “Eduan was my keuse vir ’n seun gewees. Dit bete-ken nie iets spesifiek nie, dit was net vir my mooi. Jack is egter Eduan se oupa- grootjie (Francois se oupa) se naam. Hy en my ma het vir jare saam gewerk en nooit het hulle geweet hulle sou eendag familie raak nie. Hy is ’n paar jaar gelede oorlede, maar Jack sal altyd spesiaal bly in die familie.”

Eduan speel die lekkerste met sy Fendt-trekker, verklap sy ma. “Hy speel nog nie so lank met hom nie, maar vandat hy besef het die wieletjies draai as ’n mens dit stoot, kan hy hom nogal lank daarmee besig hou. Hy maak tot geluide deesdae soos hy dit stoot.”

Die Ferreiras maak elke jaar beurte om Kersfees by hul ouers deur te bring en vanjaar gaan hulle vir Eduan se eerste Kersfees by die Ferreiras wees. “Ons gaan rustig as familie saam kuier en natuurlik hopeloos te veel eet, soos ek almal ken.”

Sy het voorts gesê dat hulle nog nie vir Eduan ’n Kersgeskenk gekoop het nie, maar dit sal in alle waarskynlikheid ’n trekker of ’n trok wees. “Dit sal nie ’n groot geskenk of baie geskenke wees nie, omdat hy nog nie verstaan nie. Een geskenk sal wel ’n swart skopmotorfiets wees – ek wil baie graag sy gesig en reaksie sien as hy dit kry.”

Eduan Jack saam. Foto: AMY COETZER/KAROO GRACE PHO

Eduan Jack saam. Foto: AMY COETZER/KAROO GRACE PHOTOGRAPHY

: Francois en Yolandé Ferreira met Eduan en Oortjies die hond op hul plaas Paradys by Klipfontein (tussen Cradock en Kookhuis). Foto: mari lord photography

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article