Ao. Fabio Pitt (47) is nie sommer enige onderwyser nie.
Hy het verlede jaar 65 boewe vasgetrek en 23 gesteelde of gekaapte motors, 13 ongelisensieerde vuurwapens en gesteelde eiendom ter waarde van R4,2 miljoen teruggekry.
Wanneer Pitt nie vir die gr. 8’s van die Maria Louw High School in Queenstown Engels gee nie, werk hy as polisiereservis – sonder betaling.
“Ek het gevoel daar is regtig ’n behoefte aan mense om ’n bydrae te lewer tot veilig-heid in die omgewing,” sê Pitt, wat al 24 jaar lank naweke diens doen as polisiereservis in Queenstown. Hy werk tans by die honde-eenheid.
Die saak waarop hy die trotsste is, is toe hy ’n paar jaar gelede ’n vermiste meisie-tjie kon opspoor, sê hy.
“’n Meisietjie van vier het laatmiddag weggeraak. Haar maatjies het gesê hulle het gesien ’n man het haar in ’n trollie gelaai en met haar weggeloop. Ek en ’n man van die honde-eenheid het die trollie se spoor gevolg.
Hulle het haar in ’n skeepsvraghouer gekry. “Sy was reeds kaal uitgetrek. Die verdagte was ook reeds kaal en hy het haar agter sy rug probeer wegsteek toe ek die deur oopskop.
“Ons het haar nét betyds gekry. Dit was vir my wonderlik om daardie dogtertjie aan haar ma te kon teruggee.”
Dit het onlangs geblyk die getal polisiereserviste het met 86% gedaal sedert 2010. Daar is nou net 8 908 oor.
In Queenstown was daar onlangs nog 200 reserviste, maar nou is daar net ’n handjievol oor.
Pitt sê baie reserviste kry nie genoeg opleiding en ondersteuning nie.
“Reservis-wees is vir my ’n absolute passie en oor die jare, glo ek, het ek my be-skeie bydrae gemaak aan ons mooie land en haar burgers.
“En net soos ek is daar nog duisende reserviste, regoor die land, wat soortgelyke onbaatsugtige diens en opofferinge aan die land maak – die SAPD sien dit net nie aldag raak nie,” sê Pitt.
