DIE Hoërskool Cradock het ’n nuwe adjunk-hoof, Carl Snyman (31), wat Port Elizabeth verruil het vir die sonnige Karoo.
Snyman, ’n oud-leerder van die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth, het hom aan die Nelson Mandela Universiteit en deur UNISA as onderwyser bekwaam en ook ’n addisionele MBA verwerf.
“Ek weet dat elke dorp so sterk is as wat sy kerke en skole is,” sê Carl Snyman, ’n wiskunde- en wetenskapman.
“Dit is my visie om die Hoërskool Cradock weer die eerste keuse skool in die omgewing te maak.
“Instede daarvan dat ouers hulle kinders wegstuur en hul inkopies op ander plekke doen, moet ouers in die streek dié skool hul eerste keuse skool maak en daarmee saam, ook die ekonomie van die omgewing stimuleer.”
Snyman sê dat hy graag saam met die gemeenskap wil werk om die Hoërskool Cradock tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Hy sê hy was slegs vier jaar oud toe hy geweet het dat hy eendag ’n onderwyser wou word.
Snyman sê hy besef om die leer in die onderwys te klim, is dit goed om by ’n plattelandse skool soos by die Hoërskool Cradock te wees. Snyman is ’n kranige sportman en rugbyafrigter.



