INXUBA Yethemba-munisipaliteit (IYM) het Sondagmiddag by ’n openbare vergadering in KwaNonzame aangedui dat Middelburg se krag nie deur Eskom afgesny sal word nie, ná onderhandelinge met die elektrisiteitsvoorsiener.

Die munisipaliteit het Vrydag R2 miljoen in ’n voorlopige afbetalingsooreenkoms met die elektrisiteitsvoorsiener Eskom be-taal. Volgens Sibongile Masawe, portefeuljehoof van IYM se finansies, is die totale uitstaande bedrag op IYM se Eskom-reke-ning R77 miljoen.

Een van die munisipaliteit se groot finansiële frustrasies blyk wyk een, twee en drie te wees, waar groot getalle inwoners geregistreer is as behoeftiges. Dié inwoners, waaronder ’n groot aantal buitelanders wat wederregtelik as behoeftiges geregistreer is, ontvang maandeliks 50kW gratis elektrisiteit.

Verdere elektrisiteit word nie van IYM aangekoop nie, maar direk van Eskom, en aangesien IYM nie die jurisdiksie het om elektrisiteitstoevoer af te sit in dié wyke nie, het hulle geen strafmaatreël om toe te pas op wanbetalers van munisipale belasting nie. Slegs tussen 3% tot 5% inwoners van dié drie groot wyke betaal getrou erfbelas-ting en munisipale dienste, en dit dra grootliks by tot die finansiële tekorte wat IYM ondervind.

Volgens burgemeester Ray Shweni is dit ingevolge die grondwet dat Eskom direk elektrisiteit voorsien aan inwoners van die munisipaliteit en dít boonop met ’n infra-struktuur wat deur IYM onderhou word.

“Daar word van IYM verwag om die infrastruktuur te verskaf wanneer nuwe huise opgerig word, en wanneer daar ’n onderhoudsprobleem is, is dit nie Eskom wat dit oplos nie, maar die munisipaliteit. Daarom maak dit nie sin dat Eskom betaling ontvang vir hierdie diens nie,” het Shweni verduidelik. Hy het aangedui dat IYM beplan om die konstitusionele hof te nader vir ’n beslissing hieroor.

“Ons gaan ook toeslaan op individue wat wederregtelik geregistreer is as behoeftige inwoners, terwyl hulle eintlik buitelanders is. Nie net ontvang hulle gratis basiese elektrisiteit nie, maar bedryf ook dikwels spaza-winkels vanaf residensiële eiendomme. Sulke minagting van munisipale bywette en wederregtelike registrasie vir behoeftehulp sal nie langer geduld word nie,” het Shweni die gehoor meegedeel.

Ná samesprekings op provinsiale vlak wat verlede week in Oos-Londen gehou is, gaan oplossings vir verskeie aangeleent-hede waaroor IYM en Eskom verskil, met behulp van ’n taakspan gesoek word. Die taakspan bestaan uit verteenwoordigers van CoGTA, SALGA, Eskom, die departement van finansies en amptenare van IYM.

Een van die historiese probleme in die Eskom-sage is die feit dat IYM twee aparte Eskom-rekeninge vir Middelburg en Cradock het. Volgens Masawe word die muni-sipaliteit met rente belas op albei uitstaande rekeninge, wat bydra tot die oplopende skuld. Daar word gehoop dat Eskom gehoor sal gee aan die munisipaliteit se versoek dat die dorpe se twee aparte rekeninge in een gekonsolideer word.

Volgens ooreenkoms sal IYM op Vrydag, 2 November ’n betaling van R10 miljoen aan Eskom maak, en later in November ’n verdere R10 mijoen.

Shweni het die gemeenskap die verseke-ring gegee dat IYM homself verbind tot voortdurende onderhandelings met Eskom, en dat verskeie munisipale ampte-nare onverpoos werk om die ingewikkelde Eskom-situasie op te los.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article