ART Deco Villa aftree–oord, die eerste privaat aftree–oord in Middelburg waarin ’n lewensreg gekoop kan word, open eersdaags sy deure.

Die aftree-oord is by Smidstraat 14 geleë.

Volgens die eienaar, Louis de Swardt, ten einde lewensreg te mag verkoop moes ’n endossement vir die reg tot okkupasie as ’n ouetehuis af-treeskema ingevolge artikel 4(C)(3) van die Behuisingsontwikkelingskema vir Afgetrede Persone Wet 1988 teen die titelakte geregistreer word.

Die registrasie het op 10 September 2019 plaasgevind en met die regsproses nou afgehandel kan De Swardt nou voortgaan met die verkoop van lewensregte in die verskillende eenhede.

Volgens De Swardt is drie eenhede reeds voltooi, naamlik twee tweeslaapkamer-eenhede en een eenslaapkamer-eenheid wat teen 1 Januarie volgende jaar bewoon sal kan word.

Nog twee tweeslaapkamer-eenhede gaan gebou word en eindelik sal die kompleks dus uit vyf eenhede bestaan.

“Kopers moet minstens 65 jaar oud wees en indien ’n egpaar koop, geld die lewensreg tot die dood van die langslewende,” het De Swardt gesê.

Volgens De Swardt is die voordele van ’n lewensreg dat geen oordragkoste of hereregte betaal hoef te word nie en daar is geen wagtyd vir registrasie nie.

Instandhoudingskoste en eiendomsbelasting word deur die eienaars gedeel in die vorm van ’n maandelikse heffing en instandhouding is die verantwoordelikheid van die ont-wikkelaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article