DIE Hoër Landbouskool Marlow se eerste tennisspan het ’n besondere seisoen agter die blad.

Die span bestaan hoofsaaklik uit gr. 8- tot gr. 10-spelers. Hulle het vanjaar aan vier toernooie deelgeneem.

Tydens die Tjaart Vorster-toernooi in Februarie het Marlow in die finaal teen die Oakdale Landbouskool gespeel en net-net verloor.

Tydens die Marilie Moolman-toernooi het die span uitstekend gevaar en het hulle weer tot by die finaal gevorder. Hier het Marlow met 5-4 teen die Hoërskool Menlopark verloor.

In September het die span aan die Bethlehem Hoërskole-toernooi deelgeneem. Hier het Marlow onder andere vir Marais Viljoen, die Hoërskool Voortrekker, die Hoërskool Linden, Hugenote Hoërskool en die Hoërskool Randburg geklop.

In die finaal kom Marlow weer teen die Hoërskool Linden te staan. Die kragmeting het met drie elk geëindig. Potte moes daarna getel word om die wenner te bepaal en ongelukkig het Marlow met ’n skrale vier potte verloor en dus die silwer medalje ontvang.

Marlow se Gideon Smith het in vier toernooie slegs een wedstryd verloor.

Marlow het ook die Sentrale Distrikte-tennisproewe vroeg in Januarie oorheers en 12 van die moontlike 18 posisies beklee. Daarna het hulle ook baie goed tydens die OP Plattelandse proewe gevaar. Drie van die spelers – Gideon Smith, Yanga Dinga en SJ Marais – het ook vanjaar vir die OP-span gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article