Marlow en Stirling se eerste spanne het mekaar met mening aangevat en Marlow het in die doodsnikke van die wedstryd gewen. Coeta Coetzee, haker van Marlow, het met sy vurige spel behoorlik die opponente laat bont staan. Hier hardloop Coeta met die bal. Marlow wen 18 – 17. Foto:VERSKAF


Marlow Landbouskool het verlede Saterdag aan Hoërskool Grens se sportdag in Oos-Londen, met ses rugbyspanne deelgeneem. Die Wolramme speel met oorgawe en wen vyf kragmetings

Marlow se 1ste span speel teen Stirling. Marlow het aan die begin van die wedstryd met mening ingeklim. Die Wolramme speel goeie, konstruktiewe rugby, maar verbrou baie van hul kanse deur swak besluite op die doellyn van die opponente.

Stirling verwerk die baie druk wat Marlow op hul plaas en vind hulself in die halfgebied van Marlow. Stirling druk die eerste drie van die wedstryd en slaag met die doelskop. Marlow val hierna weer verbete aan en begaan weer onnodige, ongedwonge foute.

Die druk wat die Wolramme op die opponente plaas, veroorsaak dat Marlow beloon word met ‘n strafdoel deur losskakel, Herman van Biljon. Halftyd was die telling 7 – 3 in Stirling se guns.

In die tweede helfte slaag Stirling met nog ’n verdoelde drie. Marlow veg voort en Burrie van Heerden van Marlow duik oor die doellyn vir ‘n uitstekende individuele poging. Herman slaag met die doelskop.

Stirling speel met oorgawe en plaas druk op Marlow. Stirling slaag met ‘n strafdoel en die telling was met 15 minute oor, 17 – 10 in Stirling se guns. Die Wolramme wys baie goeie geduld op die aanval en druk hul tweede drie. Gerrit du Plessis, flank, duik oor die doellyn, na ‘n goeie optel-en-dryf beweging.

Stirling het egter vasbeslote probeer aanval, maar Marlow maak hul stem dik deur baie aggressiewe spel op die verdeging. Marlow kry ‘n strafskop en Herman slaag met die skop. Marlow wen die kragmeting 18 – 17.

Ander spanne se tellings was soos volg (Marlow se telling is eerste):

2de vs de Vos Malan 1ste (52–0)

3de vs Stutterheim 1ste (27-12)

o.16A vs Queens o.16A (7-26)

o.15A vs Stirling o.15A (26-7)

o.14A vs Port Rex o.14A (60-0)

Marlow se o.15A rugbyspan het teen Stirling by Hoërskool Grens se sportfees gespeel. Marlow behaal ‘n goeie oorwinning van 26 – 7. Hier is agsteman Eden Calitz (met die bal) in aksie. Foto: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article