TWEE personeellede van die Hoër Landbouskool Marlow buite Cradock en ’n ondersteuner van die skool, het vir meer as 1 000km fiets gery om geld vir die skool in te samel.
“Skole trek deesdae finansieël swaar en daar kan nie meer op die departement staatgemaak word nie,” het Deon Gerber, Marlow se bemarker gesê.
“Daarom het ons besluit dat Marlow self ’n poging gaan aanwend om ekstra fondse vir die infrastruktuur op te bou.”
Dit is toe dat Dale de Wet, Marlow se koördineerder, Pieter Siebert, ’n ondersteuner, en Gerber besluit het om die pad al trappende aan te pak. Benninghoff Siebert, beter bekend as “oom Sieb” het die bussie bestuur.
Voglens Gerber het hulle besluit om die borgskappe wat hulle gevra het, so sakpas moontlik te hou.
“Mense kon ons borg teen slegs 50 sent of R1 per kilometer.
“Ons mikpunt vir die uitdaging was aanvanklik ’n 1 000km.”
Volgens Gerber het alles baie goed verloop, maar omdat daar nie eintlik tyd was vir oefen nie, het hul sitvlakke en bene die eerste paar dae swaar gekry.
Toe hulle hul ritme kry, het die manne lag-lag die afstande van tussen 120km en 180km per dag kafgetrap.
“Daar was wel ’n paar pap wiele. As ons moeg geraak het, het ons maar grappies vertel en aanhou trap,” het Gerber gesê.
Die span het op hul roete vanaf Cradock na Graaff Reinet, Willowmore, Jansenville, Patensie, Kirkwood en Pearston by verskeie oud-Marlow manne en ouers van toekomstige Marlow-seuns oornag. Hulle het die uitdagendste deel van die roete, die Wapadsbergpas tussen Pearston en Cradock, vir laaste gelos.
Uiteindelik het hulle ’n totale afstand van 1 030km voltooi en ’n allemintige bedrag van R70 000 is ingesamel.


