DIE Hoër Lanbouskool Marlow het op 13 Julie met 14 rugbyspanne teen St. Andrew’s Kollege in Makhanda (Grahamstad) gespeel.
Die wedstryde het op Marlow plaasgevind en albei skole het klipharde rugby in al die wedstryde gespeel.
Marlow se junior spanne kan baie trots wees op hul uitslae. Die Wolramme se o.14C-, o.14B-, o.14A-, o.15C-, o.15B-, o.16C- en o.16B-spanne het almal goeie oorwinnings behaal.
SAC se eerste span klop Marlow in die hoofwedstryd 41-26 en die halftydtelling was 13-12 in die besoekers se guns. Albei spanne het met fisieke hardlooprugby mekaar aangevat. Die kompetisie in die vaste fasette was baie goed tussen die twee spanne.
Die besoekers het by die afbreekpunte die oorhand gehad en bewerkstellig gereeld omgekeerde besit. Albei spanne val gereeld met goeie fasespel mekaar se voordeellyn aan. Marlow se skrumskakel het net voor halftyd ’n geelkaart gekry en die 10 minute wat die tuisspan met 14 spelers moes speel, is effektief deur SAC uitgebuit. Marlow het drie drieë gedruk en slaag met een doelskop. Marlow se vier drieë was deur SJ Pretorius, Wiehann Pretorius en Juanré Snyman gedruk. Juanré het twee drieë gedruk. Troy Delport het met drie doelskoppe geslaag.
Die ander spanne se uitslae was soos volg (Marlow-tellings eerste):
2de spanne 34 – 40
3de spanne 12 – 14
4de spanne 12 – 12
5de spanne 0 – 29
o.16A-spanne 13 – 19
o.16B-spanne 24 – 5
o.16C-spanne 21 – 5
o.15A-spanne 7 – 26
o.15B-spanne 22 – 12
o.15C-spanne 43 – 14
o.14A-spanne 33 – 12
o.14B-spanne 7 – 5
o.14C-spanne 35 – 14
Die Wolramme speel eerskomende Saterdag, 20 Julie, teen Oakdale op Marlow. Die kragmeting tussen die twee top landbouskole beloof om goeie skolerugby op te dis.



